Leier Nuusbrief Augustus 2020 Deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Augustus 2020 Deel 2


Mense twyfel aan jou leierskap


Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het (Matteus 28: 16 – 17). Daar is verskillende redes waarom mense jou leierskap betwyfel. Hierdie elf mense was drie jaar saam met Jesus. Hulle het gesien hoe Hy duisende mense voed met enkele broodjies en ‘n paar vissies. Hulle was daar toe Hy aan blinde mense hulle sig teruggegee het, toe Hy mense met melaatsheid genees het en toe Hy Lasarus uit die dood opgewek het. ‘n Paar dae vantevore het hulle gesien hoe Jesus aan ‘n Romeinse kruis gesterf het, maar voor die naweek verby was, het Jesus uit die verseëlde graf gestap en by hulle vir ‘n ete aangesluit. Ten spyte van alles het party getwyfel. Hoe is dit moontlik?


Dit is moontlik, want twyfel is deel van die mens se toestand. Dit is diep in elkeen van ons se harte.


God het saam met Adam en Eva in die tuin gewandel, maar hulle betwyfel sy waarskuwing oor die boom; Moses het God gesien, maar hy betwyfel God se opdragte oor hoe om water vir die volk te kry; Johannes die Doper, het selfs getwyfel of Jesus die Messias was. Twyfel is iets waarmee almal van ons sukkel. Ek kan God egter aanbid terwyl ek met twyfel sukkel.


Bewyse verdryf nie noodwendig twyfel nie. Die manne wat saam met Jesus op die berg gestaan het, het meer as genoeg bewyse van sy Goddelikheid gehad, en tog het hulle getwyfel. Daarom is dit dikwels nutteloos om met moderne skeptici te argumenteer. Ateïste soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens daag ons uit om te bewys dat daar ‘n God is en dan lag hulle as ons by die debat aansluit. Geloof is nie gebaseer op onweerlegbare bewyse nie; geloof is vertroue in dit waarvoor ons hoop. Skeptici word selde deur argumente oortuig, maar hulle word oorweldig deur liefde.


Dit is moeilik om met vertroue te lei, as mense twyfel aan jou leierskap – jou vermoë, jou visie en jou hart. Ons lees boeke oor leierskap wat ons probeer oortuig dat ons swak leiers is. Waarskynlik betwyfel mense ons leierskap, want hulle betwyfel leiers. As Jesus se dissipels sy leierskap betwyfel het, is dit waarskynlik dat mense wat ons lei ook aan ons leierskap sal twyfel.


Verbasend is dat hierdie elf man die berg verlaat het en ‘n beweging begin het wat die hele wêreld verander het. Dit dit lyk asof God altyd onmoontlike dinge doen deur mense wat twyfel. Abraham, Moses, Dawid, Petrus en Paulus het almal gewtyfel, maar God het hulle gebruik.


Moenie dat die twyfel van ander mense jou hele bediening verwoes nie.


Gapings in leierskap


Charles Stone vind ses fundamentele swakhede (gapings) wat alle leiers tot ‘n sekere mate openbaar. Dit is gebaseer oor hoe ons ons emosies hanteer.


Gaping #1: Emosionele reaktiwiteit (lae emosionele beheersing)


Hierdie verwys na mense wat of uitwendig of inwendig reageer op ander wanneer hulle onder spanning is. Hulle kenmerke is emosionele uitbarstings, konflik, geslote liggaamstaal, onttrekking, stuursheid en verhoudings word op ‘n afstand gehou.


Moses het dit by verskeie geleenthede vertoon. Hy slaan ‘n Egiptenaar dood wat ‘n Hebreër slaan (Eksodus 2:12); hy slaan die rots dat daar water uitkom nadat die Here hom beveel het om met die rots te praat (Numeri 20:11); hy gooi die twee plat klippe met die wet daarop flenters toe hy sien die volk aanbid ‘n goue kalf Eksodus 32;19).


Die metafoor vir hierdie tipe mense is dikwels die ystervark.


Gaping #2: Gebrek aan 1-posisie (lae oortuiging)


Hierdie leier staan by sy oortuigings as hy voel diegene om hom ondersteun hom. As hy gedruk word om te verander, gee hy maklik toe.


Hy is bang om ‘n teenoorgestelde posisie in te neem veral teenoor groot skenkers of ander senior mense. Hy het geen ruggraat nie en blameer ander en hou ander verantwoordelik vir sy geluk en mislukkings.


Die Bybelse figuur wat hierdie gaping demonstreer is Timoteus, veral vroeg in sy bediening. Ons sien dit in Paulus se raad aan hom: Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie (1 Timoteus 4:12).


Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7).


Die metafoor vir hierdie tipe mense is dikwels die jellievis.


Gaping #3:Emosionele afsnyding (lae verbintenis in situasies waar verhoudings gespanne is)


Sodra sy emosionele angs styg, distansieer hierdie leier hom emosioneel en fisies. Kenmerkend sal hierdie persone dikmond wees en mense die stil behandeling gee. Hulle kry fisiese afstand van ander, hulle isoleer hulleself en skuif na ‘n ander gemeente om moeilike verhoudings te ontsnap, hulle stel streng grense, hulle ignoreer ander en kan aggressief word.


Bybelse figure waar ons hierdie gaping sien, is die verlore seun en sy broer (Lukas 15:11 – 32). Absalom demonstreer ook hierdie kenmerke. Na sy stiefbroer Amnon sy stiefsuster Tamar verkrag het, onttrek hy hom aan Amnon en beplan om hom dood te maak. Twee jaar later vermoor hy vir Amnon en vir vyf jaar onttrek hy hom aan Dawid (2 Samuel 13 – 14). Uiteindelik lei sy bitterheid tot sy ontydige dood.


Die metafoor wat dikwels vir hierdie mense gebruik word, is dié van ‘n skilpad wat in sy dop terugtrek.


Gaping #4: Lae gesonde onafhanklikheid.


Hierdie leiers word verstrik met ander, want hulle raak oormatig emosioneel by hulle betrokke. “Most people are other people. Their thoughts are someone else’s opinions. Their lives a mimicry, their passions a quotation. (Oscar Wilde).


Hierdie mense word gedryf om een groot gelukkige familie te vorm, almal moet ingesluit word en hulle word deur konsensus gedryf. Hulle word maklik deur groepdenke oortuig.

Die metafoor wat vir hierdie mense gebruik word, is die remora – ‘n klein vissie wat aan ‘n groot vis naby sy bek vasheg.


‘n Bybelse figuur met hierdie kenmerke was Aāron. Moses los hom in beheer toe hy Sinai opklim om die tien gebooie te ontvang. Die mense was bang dat Moses nie sou terugkeer nie. Aāron gee toe aan die kuddementaliteit. Dit spoor hom aan om die goue kalf te maak (Eksodus 32:1 – 4).


Gaping #5: Oorfunksionering


Hierdie leiers bereik gewoonlik baie. Hulle aanvaar verantwoorelikheid en eienaarskap vir die emosionele welstand van ander.


Hierdie leiers werk baie hard, vra selde vir hulp, aanvaar toenemend verantwoordelikheid vir ander, doen vir ander wat hulle vir hulleself moet doen, verwag dikwels instemming van ander en verlang goedkeuring van ander.


Die metafoor wat vir hierdie mense gebruik word, is vroulike werkerbye. Hulle doen feitlik alle take in ‘n byekorf terwyl die manlike bye toekyk. As dit blomtyd is, werk hulle hulle byna dood. Hulle lewe gewoonlik vyf weke. Hulle vrek alleen en weg van die kolonie waarvoor hulle hulle lewens gegee het.


Moses was waarskynlik skuldig aan oorfunksionering toe hy probeer het om as regter vir alle dispute op te tree. Gelukkig aanvaar hy die raad van sy skoonvader, Jetro en delegeer van sy take (Eksodus 18). Marta is ‘n ander voorbeeld. Sy is angstig om die maaltyd vir Jesus voor te berei terwyl haar suster, Maria aan Jesus se voete gesit het (Lukas 10:38 – 42).


Gaping #6: Onderfunksionering


Dit lyk altyd of hierdie leiers hulp nodig het. Hulle aanvaar nie toepaslike verantwoordelikheid nie en verwag van ander om dinge reg te maak.

Hulle is baie afhanklik van ander en kyk na ander oor wat hulle volgende moet doen Hulle is dikwels passief, vra onnodiglik vir raad, vra ander om dinge te doen wat hulle vir hulleself moet doen, gee meestal toe en word vasgevang in groepdenke.


Hulle is soos ‘n klein hondjie wat slae gekry het.


‘n Bybelse voorbeeld van hierdie tipe mense is Saul. Lees net 1 Samuel 17. Goliat tart die Israeliete. Saul, as koning, moes verantwoordelikheid aanvaar het en teen Goliat opgetrek het, maar hy gee die verantwoordelikheid aan ‘n baie jong man, Dawid. Saul se passiwiteit is een van die baie swakplekke in sy wapenrusting.


Elke leier het gewoonlik een of meer van hierdie gapings. MAAR God belowe ons dat deur sy Gees Hy hierdie gapings kan vul: Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2 Petrus 1:3). Dit bemoedig ons wanneer ons sukkel.


Bly by tydens ‘n pandemie


Ons is almal senuweeagtig oor die Korona-virus. Baie van ons het familie/vriende verloor as gevolg van die virus. Ons sien nie wanneer dinge weer na normaal sal terugkeer nie. Sekere dae is ons teneergedruk. Baie van ons loop ‘n moeilike emosionele pad. Ons het hier ‘n bose drie-eenheid:


  • Stres is ‘n toestand van emosionele spanning as gevolg van negatiewe of veeleisende omstandighede.

  • Angs is vrees sonder ‘n duidelike oorsaak gewoonlik as gevolg van onsekerheid en verlies aan beheer.

  • Depressie is wanhoop wat deur baie dinge veroorsaak kan word – van slegte nuus tot slegte weer of buitengewone aansprake op jou tyd.


As die virus enige van hierdie drie veroorsaak, is daar sekere dinge wat jy kan doen.


1. Verminder jou nuusinname


Jy hoef nie die nuus op die televisie, die internet en die koerant te lees nie. Luister eerder na musiek. Moenie dat die sosiale media jou lewe ruïneer nie. Verminder die tyd wat jy lees wat ander mense sê. Moenie die Facebook plasings lees wat jou oorweldig nie.


2. Stel grense ten opsigte van jou tyd


Die feit dat jy nie op kantoor is, maar van die huis af werk, beteken nie dat jy enige tyd telefoonoproepe sal ontvang nie. Laat mense verstaan dat jy net kantoorure beskikbaar is. Jy moet beheer oor jou tyd oorneem. Jy het elke dag tyd nodig waar jy nie aandag gee aan ander mense se probleme nie. Spandeer tyd met jou eggenote en kinders. Skeduleer daaglikse oefening. Dit is goed vir jou liggaam en siel. Jy moet in beheer wees as jy emosionele ewewig wil behou.


3. Bly verbind aan diegene wat jy die meeste waardeer


Hierdie is die mense wat jy die meeste in jou lewe nodig het. Bel hulle. Skeduleer tyd op Skype of Zoom. Net om hulle te sien en te hoor, sal jou gees lig. Dit sal jou ook help om te prioritiseer. Dit plaas al die besonderhede waarmee jy gedurig worstel in perspektief.


4. Maak jou lewe ‘n bietjie ligter met humor


Daar is baie sulke programme op Youtube. Dit is ‘n welkome onderbreking van al die “swaar” nuus. As jy hou van tuinwerk is dit ‘n wonderlike manier om te ontspan. Dit is baie beter as ‘n kop vol slegte nuus. Lees is natuurlik baie goed vir jou geestesgesondheid.


5. Maak iemand anders se dag


Hierdie pandemie gaan die manier waarop ons leef onherroepelik verander. Dit hoef ons nie te oorweldig nie. Veg terug en neem beheer oor jou emosies. Doen iets vir iemand anders.


bottom of page