Lei jy vanuit jou karakter, of jou gereedskap?
top of page

Lei jy vanuit jou karakter, of jou gereedskap?


In sy nuutste Leier nuusbrief, vra Roedolf Botha of jy lei jy vanuit jou karakter, of jou gereedskap?
Lei jy vanuit jou karakter, of jou gereedskap?

Dis Os Guinness wat vertel het hoe hy op ‘n keer ‘n geestelike gesprek met ‘n Japanees, die Besturende Direkteur van ‘n groot maatskappy, aangeknoop het. In hulle gesprek oor Jesus lewer die Japannees toe die volgende kritiek deur te sê:


Whenever I meet a Buddhist leader, I meet a holy man in touch with another world. Whenever I meet a Christian leader, I meet a manager at home only at home in this world, like I am.

Wat ek hoor, wanneer ek na hierdie soberende aanhaling luister, is dat geestelike leiers se verhoudings met God so oppervlakkig is dat mense nie die hemel sien, hoor en voel, wanneer hulle met dié mense in aanraking kom nie. Ons Christene lei nie altyd vanuit ‘n ryk innerlike wêreld, wat aan die brand gesteek is deur die Heilige Gees nie. Buddhistiese leiers lei immers vanuit hulle innerlik gevormde karakter en diep spiritualiteit, terwyl die meeste Christen-leiers poog om te lei bloot met behulp van die bestuursgereedskap en kliniese vaardighede tot hulle beskikking.


Ek dink daar steek baie waarheid in bogenoemde stelling.


Die probleem met ‘n leier (al is hy ‘n Christen), wat probeer lei vanuit sy bestuursvaardighede en gereedskapkissie, is dat die omvang van die lewensleiding, wat jy kan bied, uiters beperk is. Ons is geneig om dan alle uitdagings en strategiese probleme vanuit die soort gereedskap tot ons beskikking te sien. Ons ken die uitdrukking: vir iemand wat met ‘n hamer rondloop, lyk alles soos ‘n spyker. Ons is geneig om die oplossings vir alles te soek vanuit die gereedskap, wat in ons kissie (ons toolkit) beskikbaar is. Wanneer die gepaste gereedskap nie daarin te vinde is nie, dan gryp ons in elk geval na iets daaruit, of dit nou die situasie pas of nie. Ons kan nie anders nie, want ons hét niks anders nie! Ek het dit al soveel kere by sommige konsultante gesien. Wanneer so ‘n persoon ‘n kursus in die een of ander vaardigheid of psigometriese toetsinstrument geloop het, dan moet alle besigheidsprobleme daarmee opgelos word. Dit maak nie saak met wie hy praat of wat die uitdaging is waarmee die betrokke kliënt sit nie. Die voorgestelde antwoord is altyd dieselfde, want die konsultant het soms niks anders nie. Die uiteinde is dat ons dan twyfelagtige diens lewer, maar bowenal dat die mense met wie ons omgaan, nie werklik die diepte van Goddelike wysheid in ons raaksien nie, want ons lei presies soos enige ander leiers in die wêreld.


Met Jesus-volgelinge moet dit altyd anders wees. Natuurlik gebruik ons ook instrumente. Gereedskap en vaardighede kan uiters belangrik wees.


Ons moet egter onthou dat ons in die eerste plek heiliges is. Let wel, nie skynheiliges nie, maar heiliges. Ons leef volgens die ritme van die hemelse God. Ons ganse identiteit en totale lewensverstaan word deur Jesus en sy lewe, dood en opstanding gevorm. Deur ons daaglikse lees van die Bybel, ons gereelde gebed, ons diensbare lewens, ons daaglikse innerlike transformasie deur die Heilige Gees, ons liefde vir mense, is ons veronderstel om gans anders te lyk as ander leiers. Jesus-leiers probeer niemand met hulle kennis en ervaring beïndruk nie, maar lei vanuit die diep pad, wat hulle elke dag met Jesus stap. Daarmee word nie bedoel dat ons Jesus se Naam onstylvol ingooi in elke gesprek of dat ons elke vergadering met ‘n gebed of aanhaling uit die Skrif begin nie. Dit spreek eerder van ‘n diep bron van innerlike wysheid, liefde en onderskeiding, waarmee ons werk, soveel so dat mense met wie ons saamwerk, iets van God ervaar, al word God se Naam nie noodwendig altyd genoem nie. Trouens, geestelike aansitterigheid help net mooi niks nie. Maar individue wat werklik van binne af getransformeer is, maak ‘n permanente impak, meer as enige strategie op sy eie. Ons gereedskap kan help om korttermyn probleme uit te sorteer, maar wanneer ons werklik heilige mense is, kan ons leiding uitloop op ware, diep lewenstransformasie vir individue of maatskappye.


Sonder om twee belangrike dele van leierskap af te speel teenoor mekaar, moet ons dit tog duidelik stel dat:


Die vorming van ons innerlike karakter dus belangriker as ons strategiese gereedskap is.

bottom of page