Beter leiers of beter volgelinge?
top of page

Beter leiers of beter volgelinge?


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief wat beter is, beter leiers of beter volgelinge?
Beter leiers of beter volgelinge?

Iets wat my pla in ons kerke vandag is dat almal alewig praat oor hulle dominee of pastoor, wat ‘n goeie herder is, of ‘n goeie prediker, of ‘n dinamiese leier. Of die teenoorgestelde: die geestelike leier word in ‘n meer negatiewe lig bespreek – hy verveel die mense met sy flouerige prediking, of hy inspireer nie die gemeente genoegsaam met sy styl van leierskap nie.


Wat my pla, is nie dat effektiewe leierskap of dinamiese prediking nie belangrik is nie. Inteendeel. Dit ís belangrik en ekself spandeer ‘n groot deel van my tyd saam met geestelike leiers, omdat ek die rol van leierskap as belangrik en deurslaggewend ag. Wat my pla, is veel eerder dat daar nooit gepraat word oor hoe om ‘n goeie lidmaat te wees nie. Lidmate verontskuldig hulle eie verantwoordelikheid heeltemal te maklik deur die fokus na die leraar toe te skuif. Waarom word daar nooit gepraat oor hoe om jou geestelike leier beter te ondersteun nie? Navorsing oor die jare het al aangetoon dat om ‘n dominee te wees, een van die stresvolste werke in ons samelewing is. Waarom word daar nooit gepraat oor hoe om meer effektief te lúister sonder om die arme prediker se spreekvermoë uitmekaar uit te trek nie? Die Bybel lê BÁIE meer klem op navolgingskap as leierskap. Geloof in Jesus is ‘n volg-ding. En ons oefen tog ons navolging van Jesus deur die leiers, wat Hy in sy gemeentes geplaas het, te volg. Die Hebreërskrywer (13:17) sê:


Julle leiers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.


Let wel dat die teks nie sê dat leiers gevolg moet word, omdat hulle goeie sprekers is of kreatiewe, dinamiese persoonlikhede het nie. Geestelike leiers behoort gevolg te word, bloot omdat hulle getrou is. Die Bybel sê so. Talle seminare word aangebied oor hoe om ‘n beter leier te wees. Ek hoor egter min seminare oor hoe om ‘n goeie, opbouende lid van die gemeenskap te wees. Daar is baie kommentaar oor hoe geestelike leiers beter kan preek. Ek hoor egter min kommentaar oor hoe lidmate met oper en ontvankliker harte kan luister.


As Jesus dus vir ons sê: Volg My, dan impliseer dit dat ons ook die leiers, wat Hom volg, nie gedurig sal evalueer en kritiseer nie, maar hulle ook eerder sal navolg, ondersteun en na hulle sal luister, selfs al is hulle nie die mees “entertaining” sprekers nie.

bottom of page