Lag, dit is ’n opdrag!
top of page

Lag, dit is ’n opdrag!


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus dat vreugde ’n Bybelse opdrag is.

Jordin Sparks skryf iewers:

“If I don't laugh at least 20 times a day, it hasn't been a good day.”

Baie mense sal dadelik sê dit is naïef. Nogtans kry die meeste volwassenes dit sonder veel inspanning reg om 20 keer per dag te kla, te bekommer, of negatief te praat. In ’n nuwe boek oor die impak van humor (“Humour, Seriously”, 2020) verwys Jennifer Aaker en Naomi Bagdonas juis na navorsing wat bevind dat vierjariges sowat 300 keer per dag lag, terwyl dit veertigjariges ’n volle tien weke neem om 300 keer te lag. Vir volwassenes is die lewe ernstige sake. Waag jy dit om bly te wees, is jy onrealisties of naïef. Waag jy dit om te sê Corona-tyd is ook ‘n tyd van vreugde, is jy uit voeling met die realiteit.


In my kinderdae was dit boonop taboe om in die kerk te lag. Ons moes ons lagtande by die kerkdeure agterlaat. Ek onthou ek het een keer begin giggel toe ’n groot veer uit ’n tannie, wat voor ons gesit het, se grênd hoed geval het. Toe is ons omtrent uitgekyk. Terwyl my ma verleë groot oë vir my trek, het een tannie haar tong geklap en haar kop verontwaardig geskud. Gelukkig het ek later darem Marten Luther se opmerking raakgelees dat God definitief ’n humorsin het, want Hy het mense soos ons geskep. Ook het Luther gesê dat as daar nie humor in die hemel is nie, dan wil hy nie eintlik soontoe gaan nie. Vreugde is ’n Bybelse opdrag. Dit is ’n Goddelike moet! Vreugde te midde van al die swaar en seer, wat die lewe soms na ons kant toe aangee, is nie onmoontlik nie. Dit is juis God se alternatiewe pad vir sy kinders. Vreugde groei uit die besef dat ons ń Hemelse Vader het wat vir ons sorg. Dit groei uit die besef dat elke haar op ons kop getel is en dat ons die Here met ons hele lewe kan vertrou.


Lag meer. Lag saam. Lag aansteeklik. Lag uit jou maag en uit jou hart. Lag die pyn uit die pad.

bottom of page