Jy moet jou naaste liefhê soos jouself
top of page

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself


Marietjie Joubert skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor hoe dit lyk as jy jou naaste lief het.
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Die afgelope tyd het ek weer diep bewus geword van hierdie gebod. Hierdie is die grootste gebod! Soms dink ek dit gaan by die een oor in en dan sommer by die ander oor uit. Dit haak nêrens vas nie. Ons het nie velcro tussen die ore nie.


Die eerste vraag, wat jy jouself moet afvra, is: “Wie is my naaste?” Dis dalk die eerste haakplek. Jou naaste is enige iemand, wat oor jou pad kom, met wie jy te doen het, saam met wie jy werk, ens.


Ons moet optree en praat met ander mense, soos wat ons graag wil hê hulle teenoor ons moet optree. Ons is so geneig om NET selfsugtig te dink en te doen. Ons draai nie situasies om en dink hoe ons sou gevoel het nie. As iemand oor my skinder, sleg praat of oneerlik is, sou ek ook nie daarvan gehou het nie.


Ek het in my skoolklasse net een reël: Respek. Jy behandel mense met respek en jy tree op vanuit respek. As jy dan nog byvoeg dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, dan gaan jou hele uitkyk op jou menseverhoudinge verander. Al wie belangriker is, is God die Vader! Ons is baie vinnig om te veroordeel, want ek is nie soos hulle nie. Ons hou van die woordjie “hulle” Die woordjie omvat so vreeslik baie. Net omdat mense anders as ek is, anders leef of lyk, beteken dit nie hulle is nie my naaste nie.


God se wil vir elke mens begin by liefde. Liefde vir die Vader, dan volg jou naaste. Hierdie vloei voort uit jou liefde vir die Here. Ons kan nie Jesus se naam bely en dan optree, praat en doen soos ons wil nie. Baie van ons dra die armbandjie “What would Jesus do?” As ek dan na my optrede kyk en ek vra myself werklik eerlik af of Jesus soos ek sou optree, sou die antwoord definitief NEE gewees het.


Jesus het aan ons onbeskryflke liefde bewys. Hy het Sy hemelse woonplek verlaat en aarde toe gekom. Hy het die eenvoudigste lewe gehad, maar Hy het mense innig liefgehad. Hulle melaatsheid of ander siektes het Hom nie afgeskrik nie. Ander nasionaliteite het nie Sy hart hard gemaak nie. Inteendeel, Jesus het mense innig jammer gekry, want Hy het hulle liefgehad.


Vra God vir ‘n liefdeshartoorplanting. Vra Hom dat jou hart sal oorloop van liefde vir mense anders as jy en dat jy hulle sal raaksien, soos wat God na hulle kyk. Slegs dan kan ons die liefdesgebod eerlik leef, praat en doen.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page