Hart of hande?
top of page

Hart of hande?


Ek het een maal ‘n konsultasie vir ‘n maatskappy in Gauteng gefasiliteer. Terwyl ek besig was om die bestuur te oortuig dat dit ‘n gesonde en nodige praktyk is om gereeld na jou mense te luister, bars die uitvoerende bestuurder skielik uit met dié woorde:


“Man, my werknemers word betaal en hulle moet doen wat ek sê. Ek wil nie heeldag na hulle gevoelens en klagtes ook luister nie!”


Ek skryf toe die bedrag van R10 000 op die blaaibord en vra vir hom:


“Kom ons sê hier is ‘n werknemer met die naam van Leon, wat elke maand R10 000 per maand by julle verdien. Wat wil jy graag van Leon hê vir hierdie R10 000? Wil jy slegs sy handewerk tot jou beskikking hê? Met ander woorde, wil jy hê dat hy bloot die minimum take op sy werksomskrywing afhandel, sodat hy sy vergoeding elke maand kan kry. Want in daardie geval sal jy nooit weet of hy werklik lojaal is en of hy sy beste gee, wanneer hy alleen is nie.”


“Daar is ‘n ander alternatief,” sê ek toe. “Jy kan poog om sy hart oor te wen, want indien jy sy hart vir dieselfde bedrag kan wen, dan gaan jy baie meer by Leon as net R10 000 se werk kry!”


Dis wat so baie leiers nie verstaan nie. Wanneer jy iemand se hart oorwen, wen jy soveel meer as net die verwagte werksresultate van die indiwidu. Jy wen ook sy lojaliteit. Christen-leiers behoort nie bloot te lei om produksie of prestasie uit hulle werknemers te wurg nie. Hulle het ‘n roeping om op so ‘n karaktervolle en liefdevolle manier leiding te gee dat werknemers graag hulle beste wíl gee. Want wanneer jy iemand se lojaliteit wen, dan doen die persoon soveel meer as wat van hulle gevra word. Hulle sal vrywilliglik na ure werk, indien omstandighede dit sou vereis. Hulle sal jou agter jou rug verdedig. Hulle sal nie skinder of die werksplek vergiftig nie. Hulle sal hulle werk so goed moontlik afhandel, al kan jy hulle nie dophou nie.


Paulus skryf oor die werksplek, wanneer hy sê (Ef. 6: 5, 9):


Slawe (of werknemers in vandag se terme), wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde en doen dit met eerbied en ontsag, maar terselfdertyd met ‘n opregte hart, asof dit vir Christus is.... En eienaars (of base), behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is...


Ons moet só lei dat mense Jesus in ons sal sien. Ons moet só lei dat mense Jesus se teenwoordigheid in hulle eie werksituasie sal beleef. Ons moet só lei dat ons werksmense of gemeentelede nie bloot lojaal aan óns sal wees nie, maar uiteindelik lojaal aan Jesus self sal wil wees. Indien ons lojaliteit wil hê van ons volgelinge, dan moet ons self ook lojaal wees. Wanneer ons ‘n kultuur van liefde wil skep, dan moet óns self vir mense lief wees, régtig lief wees. Wanneer ons respek en eerbied wil ontvang, dan moet ons ook respek en eerbied uitdeel, in plaas van dreig. Te veel leiers doen dit waarteen Dave Ramsey waarsku:


Too many people in business have become so shallow that they are merely transactional, not relational.


Indien jy slegs iemand se hande wil wen, lei dan jou mense op ‘n transactional manier, met ander woorde ‘n bloot wederkerige gee-en-ontvang-interaksie. Indien jy hulle harte wil wen dat hulle met onwrikbare lojaliteit volg, moet jy deur verhoudings en respek lei.


Dis altyd ‘n nugter ervaring om te dink hoe Jesus gelei het en die harte van sy mense verower het. ‘n Teoloog het eenkeer gesê dat Paulus alle praktiese probleme in die gemeentes oplos met die kruis. Dit geld ook vir leierskap. Aan die kruis het Jesus nie gelei deur middel van ‘n Baas-en-Klaas-gesindheid nie, maar Homself totaal en al oorgegee aan kwesbaarheid en Sy lewe geoffer.


Dís die soort Leier aan wie ek lojaal wil wees.


bottom of page