God se liefde het ’n lyf
top of page

God se liefde het ’n lyf


Hy het die wêreld vir altyd andersom laat draai- hierdie Man wat geen boek geskryf het nie, geen land regeer het nie, geen weermag rondom Homself geskaar het nie, en geen politieke of ekonomiese mag besit het nie. Ek praat van Jesus. Sy dissipels was eenvoudige mense. Sy aanhangers het uit sondaarskringe gekom. Sy vyande het hom afgeskryf as ’n godslasteraar, maar sy navolgers het bely Hy is die Messias, die Seun van God. Met sy woorde het Jesus bose magte laat vlug en siektes hok geslaan. Selfs die wind en die see het geluister wanneer Hy gepraat het. Maar sy grootste daad ooit was toe Hy Homself as weerligafleier aan ’n houtkruis in Jerusalem opgeoffer het. Terwyl die godsdienstiges gejuig het oor sy dood, het Hy die telbord van die heelal vir altyd verander. By Golgota het Hy God se hart vir hierdie corona-besmette en sonde-geteisterde wêreld gewys. Daar sien ons hoe lyk die liefde van God in lewende lywe.


Maar kan die Kind van God doodgemaak word? ’n Skrikwekkende vraag, om die minste te sê. Tog is dit die realiteit waarmee die kruis van Golgota ons konfronteer. Dit wat daar by die kruis gebeur, is in een woord skrikwekkend. Jesus se kruisdood is georkestreer deur die magshebbers van die dag. Sy stem moes met geweld stilgemaak word. Presies dit het hulle ook reggekry, - totdat Jesus die dood 'n paar dae later uitoorlê het. Hy wat van die begin af daar is; Hy wat die ewebeeld van God is, juis Hy sterf daar aan Golgota se kruis. Maar Jesus doen iets vreemds in sy sterwensoomblikke: Hy verplaas Homself in ons skoene. Jesus kies daar om ons lot Syne te maak. God se Seun vervang sy identiteit aan die hout van Golgota met ons s’n sodat daar weer vrede kan kom, vrede tussen ons en die hemel. Sy dood vertel van nuwe lewe vir ons elkeen.

bottom of page