God ken
top of page

God ken


In Tobruk in Noord-Afrika - waar Hitler se generaal, Rommel, verslaan is - is daar grafstene van soldate, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog omgekom het. In baie gevalle het die soldate in onbekendheid gesterf en is hulle name nie eers geken nie. Niemand het geweet wie hulle of wie hulle familie was nie. Op diegene se grafte staan vandag nog slegs die woorde:


Known unto God.

Dit was in die tyd van Johannes en Openbaring ook byna so. Christene is geweldig vervolg en somtyds het die verdrukkers hulle slagoffers van die aardbol af laat verdwyn sonder dat iemand geweet het waarheen hulle is of wat presies met hulle gebeur het. Daarna het die lewe eenvoudig sonder hulle aangegaan en later het dit gevoel asof die samelewing hulle nie eers mis nie. Dit het sommige gelowiges baie ontstel. Dalk voel sommige van ons ook vandag so oor een van ons afgestorwe geliefdes.


Vir die gelowiges van die eerste eeu het God egter ‘n belangrike boodskap gehad. In Openbaring 7:1-8 word die gelowiges met die merk van God gemerk. Boonop is die getal mense, wat gemerk is, honderd vier en veertig duisend. Hiermee wil Johannes ‘n baie belangrike punt maak en dit is dat God elke liewe een van Sy kinders ken en dat hulle aan Hom behoort. Die honderd vier en veertig duisend dui simbolies op die feit dat die getal mense, wat aan God behoort, volledig is. God kén die getal. En Hy ken elke mens op sy naam. Elkeen is getel. Niemand kan wegraak nie en niemand sal vergeet word nie, al ken niemand anders hulle nie.


Known unto God.

Soms voel ek en jy ook so. Ons voel so klein en onbelangrik in die groot stand van sake. Dit val my op hoe soveel gelowiges elke dag met gevoelens van nutteloosheid, eensaamheid en waardeloosheid worstel. Vir baie mense in hierdie vreemde tyd voel dit asof hulle lewens nie meer sin maak nie. Heelwat voel asof hulle eenvoudig wegraak in die skares en verdwyn van die radar van die mensdom af. Daar word gesê dat juis dít die swaarste is vir mense, wat aan depressie ly: dat hulle in hulle donkerste uur voel asof hulle die enigste mense op aarde is wat swaarkry. Dit voel asof hulle alleen aan die pyn en terneergedruktheid dra. Vir diegene van ons kom die stem van Jesus helder en duidelik:


God is die groot Kenner. Hy ken almal. Hy ken jou. As jy eers aan Hom behoort, kan jy nie wegraak nie. Hy sien jou en hou jou vas. Volgelinge van Jesus word gekén en is geliefd.


Daarom kan nie een van ons in die skares wegraak nie.

bottom of page