top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Lyding wys ons is eg, God is eg


Wat my onlangs opgeval het, was die woorde van die ateïstiese Yuval Noah Harari, ‘n briljante Israeliese historikus en futuris. Hy het aan die einde van sy boeke gesê:


Suffering is the most real thing about life. If you want to know whether a story is about a real entity, you ask the question: can this entity suffer?

Dit klink dalk effens donker vir ‘n Jesus-volgeling. Dink egter oor die waarheid van sy woorde. Harari se woorde maak tog sin. Indien ‘n mens wil weet of enige iets of iemand lewend en eg is, kan jy eenvoudig vra: Kan hierdie iets of iemand pyn ervaar? Ons vermoë om te kan ly word natuurlik negatief en pynlik beleef. Maar terselfdertyd herinner dit ons daaraan dat ons lewe, dat egte lewensasem deur ons longe vloei. Dooie dinge kan nie ly nie.


Dit is selfs waar van God. Trouens, dis júis waar van God. Indien Harari se woorde kenmerkend is van ‘n lewende entiteit, wat sou dit sê van die kosmiese Skepper-God, wat vrywílliglik gekies het om te kom ly? Maak dit Hom dan nie méér eg as enige iets of iemand anders nie?


Want sien, na Golgota is God gewond. Hy is die gewonde God, die gekruisigde God. Die lydende Here. Die antieke Grieke sou nooit só oor hulle eie gode kon dink nie. Die Olimpiese gode was sterk en onkwesbaar. Hulle het pyn veroorsaak, nie sommer pyn beleef nie. Hierdie gode het egter wel probeer om wrede dinge aan mekaar te doen - dis nie dat hulle geensins kon ly nie, maar uiteindelik het hulle meestal weer herstel of ontsnap uit hulle penarie. Wat hulle egter nooit sou doen nie, is om self te kies om vrywilliglik te ly. Dit was ondenkbaar. Lyding was vir swakkelinge, nie gode nie. Die God van die Bybel openbaar Homself nie as onkwesbaar nie. God is inderdaad die Koning, die Skepper van hemel Aarde. Hy is almagtig. Maar Hy het gekies om Homself as die lydende Dienskneg te openbaar, die Een wat juis die wêreld na Hom toe aantrek deur die kruisiging. Dis wat Johannes sê: Jesus trek nie mense na Hom toe aan slegs as gevolg van Sy krag nie, maar juis wanneer Hy ly en aan die kruis gehang word (Joh 12:32). God is almagtig, maar hy is nie Superman nie. Hy wil nie wees nie. Hy wil die lydende God wees, want in Sy spesifieke lyding openbaar Hy Sy geweldige, bomenslike en crazy liefde, wat Hy vir Sy skepping het. Sy kruis beteken dat Jesus nie net vír ons gesterf het nie maar ook mét ons gesterf het. Dit beteken dat God se liefde eg is en as eg beleef kan word, juis binne-in óns lyding. Wanneer ons ly, ly Hy ook en wanneer ons huil, huil Hy saam met ons. ‘n Jesus wat rondloop met ‘n breë bors, waarvan die koeëls skadeloos kan wegspat, sou indrukwekkend wees, maar daarmee sou Hy nie ons harte kon verower nie. Nee, Jesus vóél die koeëls, die sweepslae en die doringkroon ten diepste. Met Sy krag wen Hy ons bewondering en agting, maar met Sy lyding versag Hy ons harde harte. Sy kruis is juis Sy krag. Met Sy wonderwerke beïndruk Hy ons, maar met Sy trane oorweldig Hy ons. Jesus se opstanding verklaar Hom as ons Koning, maar Sy kruisdood verklaar Hom as ons groot Liefhebber!


If you want to know whether a story is about a real entity, you ask the question: can this entity suffer?

As Harari maar net bereid was om dieper te luister na die boodskap van Paasnaweek, dan sou hy dalk besef dat die fundamentele waarheid en egtheid van hierdie stelling in Golgota gesetel is.


Hier het God gely, ook vir briljante Israeliese ateïste.

Comments


bottom of page