Geseënd is sulke laatkommers
top of page

Geseënd is sulke laatkommers


Doer in 1939 het George Dantzig as jong student laat vir ‘n wiskundeklas by die universiteit opgedaag. Teen daardie tyd het sy professor reeds twee wiskundige probleme op die bord neergeskryf. Dantzig het dadelik dié huiswerk neergeskryf en by die huis daaraan gaan werk. Dit was moeilik, maar uiteindelik het hy daardie wiskundige probleme opgelos. Toe het hy sy antwoord aan sy dosent, Jerry Neyman, gaan oorhandig. Die professor was totaal verstom. Dit was toe nie huiswerk nie, maar twee wiskundige probleme, wat hy op die bord neergeskryf het om vir studente te wys dat selfs die beste wiskundiges van daardie tyd hierdie probleme nie kon oplos nie. Maar toe kry Dantzig dit reg! Ek wonder wat sou gebeur het as Dantzig daardie dag betyds vir klas opgedaag het?


“Ons het dit al probeer, maar dit werk nie.” So sê mense dikwels, ook in die kerk. Vra maar vir die skoenmaker William Carey (1761-1834). Tydens ‘n plaaslike byeenkoms van godsdiensleiers in Northampton vra Carey eendag vir die aanwesiges of dit nie alle gelowiges se roeping is om die wêreld met die evangelie te dien nie. Toe het ‘n kerkleier blykbaar vir Carey gesê: “Sit down, young man! If a sovereign God wants to convert the heathen, he doesn’t need you to do it.” Carey het egter hierdie “raad” geïgnoreer; sy moue opgerol en ‘n sendeling in Indië geword. Daar het hy onder moeilike omstandighede gaan werk. Onder andere het sy een kind en sy vrou gesterf. Die eerste bekeerling onder sy bediening is spoedig ook vermoor. Tog het Carey reuse werk gedoen om die Bybel in ‘n aantal Indiese tale te vertaal.


Wat het hierdie doodgewone skoenmaker-leraar aangevuur om die aarde te deurkruis? Carey het kop aan KOP in Jesus vasgeloop. Toe het hy boonop agter Jesus Indië toe aangestap. Nee, Carey het nie voor die tyd ‘n glashelder plan vir sy sending in Indië in plek gehad nie. Al wat hy gehad het, was ‘n onwrikbare visie van Christus se liefde vir verlore mense. Dit het soos ‘n vuur in sy binneste gebrand. Carey het nie eers gewag totdat hy al die nodige hulpmiddels, planne en fondse in plek gehad het nie. Hy het van die begin af geweet daar is nie iets soos ’n onoplosbare probleem in God se diens nie. Geseënd is sulke laatkommers, soos Carey, wat steeds nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. Mag jy ook een wees.

bottom of page