Ek het nie lelik gepraat nie, nie eens amper nie
top of page

Ek het nie lelik gepraat nie, nie eens amper nie


“Ek was so kwaad dat ek amper nie lelik gepraat het nie.” Vir ’n oomblik moes almal mooi dink toe iemand dit opmerk in ’n geselskap. “Met ander woorde, jy het lelik gepraat,” ontrafel iemand anders dit toe. Die kort en die lank is dat kragwoorde by die dag al hoe gewilder raak. Ek praat van daardie tipe taal wat vroeër nog met *@*#* uitgebeeld is. Van sulke “sterbelaaide” woorde gepraat - ’n oorsese studie van onepolll.com het ’n paar jaar gelede bevind dat motoriste 41 vloekwoorde per 160 kilometer oor hulle lippe loslaat. ’n Bekende motorfabrikaat het hierdie studie laat doen onder 2,000 motoriste, wat gemiddeld per maand 600 km werk toe en terug gery het. In hierdie proses vloek motoriste sowat 152 keer. ’n Volle 38% motoriste het ook erken dat hulle hul kop verloor, wanneer hulle begin swets. 46% meen egter dis nie te erg nie, maar amper net soveel voel na die tyd sleg hieroor.


Kragwoorde het teveel mense se daaglikse spreektaal geword. My pa sou gesê het sulke taal benodig ’n mondspoelmiddel. Maar daardie dae is blykbaar verby … of nie! Die Bybel sê padlangs dat goor taal onwelkom is in ons lewe. Dag vir dag, of moet ek eerder sê kilometer vir kilometer, moet ons kies vir stylvolle taal, wat die Here verheerlik en wat ander mense in hulle geloof opbou. Ons woorde mag nooit hard, afbrekend, kru, kras of ongeskik wees nie. Dit moet keurig wees. In die taal van Spreuke 10:20 is ons woorde soos kosbare silwer. Dit wys wanneer ons met respek en eerbied met die Here in ons gebede asook in al ons gesprekke oor Hom praat. Ook wys dit wanneer ons mooi met ander mense praat. Wanneer ons dit aanhoudend doen, verander ons woorde in spasieskeppers. Dan maak ons woorde ruimte vir die Here se genade, asook vir Sy vreugde en hoop.


Wees asseblief bekend by die Here en tussen ander vir jou opbouende taal, nie vir jou sterbelaaide woorde nie. In elk geval hoort goor woorde by diegene wat nog die regte styl en panache kortkom en ook die Gees se aanraking!

bottom of page