Gebed
top of page

Gebed


Lees Matteus 7:7-8


Gebed is om ten diepste ‘n verhouding met God te hê. Wanneer ‘n mens in ‘n verhouding staan met iemand, praat jy gereeld, jy luister na daardie persoon, jy vertrou die persoon en jy deel dinge met hom of haar.


Elke persoon beleef sy of haar gebedslewe op verskillende maniere. Party mense bid in die oggend. Ander verkies stiltetyd in die aand. Sommige mense kan nie lank bid nie en bid verskeie kere kort deur die dag. Dit maak nie saak hoe jy dit aanpak nie, die geheim is net dat jy sal bid.


Wanneer ons in gebed tot God nader en in ‘n hegte verhouding met Hom staan, sal gebed meer gaan oor ander mense se nood en behoeftes. Gebed is nie ‘n behoeftelys, waar ons aftik waarvoor ons nou al alles vir onsself gevra het nie. Dit is nie ‘n selfsugtige vra vir myself nie.


Gebed is soms om in stilte vir God se teenwoordigheid en Sy stem in jou hart te wag. Om net in God se teenwoordigheid te wees sonder om te praat, vervul jou met tevredenheid bo alle verwagting. Om rustig by God te wees en te wag op Sy stem, is die vervulling van ‘n diep en tevrede verhouding met Hom.


In swaarkrytye leun ons swaar in gebed op die Here. As jy in ‘n swaarkryseisoen is en jy sukkel om te bid, gebruik ’n Psalm, soos byvoorbeeld Ps. 23. Plaas jou naam in die teks. “Die Here is Elmarie se herder…” Verpersoonlik die teks en gebruik dit as jou gebed. Hierdie manier van bid hou jou naby aan die Here en aan Sy woord as jou eie woorde ontbreek.


In tye wanneer dit met ons goed gaan, bid ons anders en beleef ons weer vrede. Ons kan met sekerheid weet dat God luister as ons praat. Hy is die verhoorder en hoorder van gebed. Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Die verhoring van gebed is dalk nie altyd wat ons verwag nie, maar by God is daar altyd verrassende antwoorde.


In hierdie verse word daar ook klem gelê op aanhoudende smeekgebede. As jy nie antwoorde kry nie, hou aan klop. God luister. Jy mag nooit moedeloos word nie. Bid en hou aan bid.


Jou gebedslewe moet jou naby aan die Here hou, jou verhouding met Hom versterk en jou eie geloofslewe opbou. Ek bid dat dit vir jou elke dag ‘n vervullende ervaring sal wees, waarna jy uitsien om die dag mee te begin of af te sluit.

bottom of page