Eet saam met Jesus
top of page

Eet saam met Jesus


My ma het gereeld vir my gesê: “Ai, Sus, dit is so lekker om te eet.” En ja, is dit nie lekker om te kan eet nie. Op ‘n onlangse roete deur Griekeland met ‘n ekerktoer, word ons blootgestel aan geurige Griekse kos. Ons proe aan alles en geniet die smaakontploffings. Ek maak notas oor wat ons tuis kan probeer en of ek dit sal kan regkry. Straatkos, soos souvlaki, is bekostigbaar en heerlik met vars bestanddele. Dit proe of die tamaties deur die son gesoen is.

Met ons terugkeer plaas ek die nuut ontdekte kruie in gemerkte houertjies in my spens. Ek deel dit met vriendinne en wag vir die regte geleentheid om dit te probeer. Daar is min dinge wat so lekker is soos kos, besef ek weer.

Sondag, terwyl ek luister na die prediker, hoor ek die aanhaling van die bekende teoloog, Len Sweet, dat Jesus mense van die evangelie vertel het. Hulle het dan tot bekering gekom het en saam met Jesus geëet. Hoe wonderlik is dit nie!

Eetervarings is vir my sensasie-ervarings. Ek word intens bewus van wat ek proe en ruik. Ek onthou dit duidelik en verbind die ervaring aan mense en plekke. Ek neem foto’s van kos en deel dit met vriendinne.

Toe ek die aanhaling van Len Sweet hoor, dink ek aan so baie geleenthede, waar Jesus saam met mense geëet het. Terwyl Jesus saam met die dissipels geleef het, het hulle daagliks saam geëet. By hierdie geleenthede het Jesus hulle geleer. In Lukas 5:27-32 lees ons van Levi, ‘n tollenaar. Jesus loop by Levi verby en sê vir hom: “Volg my.” Levi het alles net daar gelos en Jesus gevolg. Jesus het saam met hom na sy huis gegaan en hulle het saam geëet. Ek kan my net voorstel hoe hulle die lewe gevier het. Levi het sopas die Here gevind en daarmee saam die ewige lewe. Jesus eet saam met hom en baie ander tollenaars. Natuurlik was die skrifgeleerdes en Fariseërs omgekrap met Jesus. Hy antwoord hulle so mooi in die teks. Vir my is dit net te wonderlik dat Jesus mense in die hemel in eet! Wat ‘n geleentheid is dit nie. Kan jy jou voorstel wat die gesprekke daarna sou wees. “Terwyl ek die hummus op my brood skep, het Jesus my van redding geleer.”

Wanneer ek die gedeelte lees, stel ek my voor dat as dit vandag gebeur, mense ook groot oë sal trek. Vir Jesus is dit die geleentheid om ‘n nuweling in die Koninkryk te verwelkom en om hom en sy vriende daarvan te leer. Wat ‘n feesmaal sou dit nie gewees het nie!

Ons moet dalk meer male net saam met vriende eet en kyk wat gebeur as Jesus genooi word. Sit om die tafel, gesels oor die Here en laat die God van hemel en aarde jou verras. Dek die tafel en laat ‘n sitplek vir Jesus as die eregas oop. Nooi hom in by die gesprek en geniet ‘n feesmaal, al is dit net ‘n braaibroodjie. Laat ons hier in Pinkstertyd weer opnuut bewus word van die werking van die Heilige Gees. Hou jy net die ete.

bottom of page