Eensaamheid en Alleenheid hierdie Kerstyd
top of page

Eensaamheid en Alleenheid hierdie Kerstyd


 “The most terrible poverty is loneliness and the feeling of being unloved.” - Mother Teresa

 

Met die aanbreek van die Kersseisoen mag ék dalk die eensame een wees of dalk dié een, wat iemand anders se eensaamheid raaksien. Ontstel ek my net oor die onregverdigheid en hopeloosheid van die situasie, of soek ek na ‘n manier om iets omtrent die saak te doen?

 

Kersfees is so ‘n spesiale tyd van die jaar, van saamwees, geskenke uitdeel en ook rus na ‘n jaar se harde werk. ‘n Tyd in die jaar om weer saam met ons naaste familie en vriende te kuier. Vir meeste van ons is dit ‘n tyd om na uit te sien, maar dit mag ook ‘n tyd wees waar my alleenheid en eensaamheid tasbaar is.


‘n Gevoel van leegheid en alleenheid, selfs al is ek deur mense omring, is iets wat so maklik op ‘n mens kan toesak - ‘n tuisblymamma van jong kinders, ‘n liefdelose verhouding, ouers met ‘n leë nes of as jou huweliksmaat skielik wegval. Vir dié wat deur ‘n moeilike tyd gaan, kan dit baie eensaam en alleen voel, veral as dit lyk of almal anders se lewe rooskleurig en uitgesorteer is.  


As Christen sal ek waarskynlik / moontlik eerste by die Here gaan troos soek. Daar is soveel beloftes van Sy trou en nabyheid, wat my kan help om nie in ‘n donker gat van depressie te verval nie. Psalm 147:3 herinner: “Hy genees dié, wat gebroke van hart is en verbind hulle wonde.”  Dit is ook waar in hierdie Kerstyd.


Dis ‘n wonderlike troos dat die Here omgee en vertroos, wanneer ek eensaam is, maar daar is ook ‘n Godgegewe “medisyne” vir eensaamheid. Dit is wetenskaplik bewys dat ‘n mens se gemoed lig, wanneer jy goed doen aan iemand anders. Ek kan by ‘n eensame bejaarde of sieke gaan kuier. Of ek kan by my kerk of ‘n ander liefdadigheidsorganisasie se sopkombuis gaan help – die saamwees met mense sal ook mý gemoed lig.

 

‘n Jong vriendin, wat in die kosmaakbedryf is, het ‘n paar maal vir ‘n kinderhuis se tienerdogters ‘n paar kooklesse gaan gee. ‘n Gesin, wat op pad was om Kersfees by familie in ‘n ander provinsie te gaan deurbring, het ‘n vrou langs die pad gekry, wat sonder brandstof gaan staan het. Hulle het gehelp met brandstof en so met die gesels uitgevind dat sy eintlik op pad was om selfmoord te gaan pleeg – sy was net te moedeloos en alleen. Sy het die uitnodiging om Kersdag saam met die familie te vier, met vreugde aangeneem en die familie het die seën van goed wees vir iemand anders in nood, beleef. Dis waarlik beter om te gee as om te ontvang.

 

“Op dié manier wou ek vir julle wys dat julle nie net vir julleself moet lewe nie. Sien ander mense se nood en armoede raak. En help hulle. Onthou: ons Here Jesus het gesê: ‘Dit is beter om te gee, as om net te wil ontvang.’”  – Handelinge 20:35 DB

bottom of page