top of page

Drie Honde


By die swart traliehek gewaar ek die hond, wat so wild en wakker vir my blaf. Die Jack Russell staan op sy agterpote en gluur my aan. Sy een voorpoot raak-raak aan die traliehek. Met elke blaf hop die voorkant van die pootjie, terwyl sy een oortjie nogal ewe saam op en af wip.


Ek stop en praat met die outjie. Hy staar my eers wantrouig aan. “Wil jy saamdraf?” vra ek. Ek is nie seker of hy my verstaan nie, maar hy gaan sit ewe kordaat en daar gly rillings teen sy ruggie af. Na twee of drie sinne groet ek maar en draf verder. Jack blaf nie meer nie. Sy voorpootjie is weer op die traliehek wanneer ek om die draai verdwyn.


Dit is nie lank nie of ʼn volgende hond se geblaf begroet my. Die Golden Retriever blaf opgewonde. Sy is duidelik baie lus vir ʼn bietjie aksie. Hoe nader ek aan haar erf kom, hoe wilder raak die hondegeluide. Ook hierdie een verwelkom ʼn sin of twee. Sy word nie heeltemal rustig nie, maar maak dit wel met haar stert duidelik dat sy nie ʼn vyand is nie.


Die derde hond langs die pad is egter ʼn ander saak. Ek kan nie sien of dit ʼn reun of ʼn tefie is nie. Ek kan ook nie die woef se oë sien nie. Die Malteser-bloed loop sterk in die wolbolletjie se are, maar dit het vriende ook by. Ek probeer met haar ook gesels, maar hierdie keer is die reaksie die teenoorgestelde van wat ek wou hê. Haar geblaf skiet die hoogte in. Harder, skerper en angstiger. Hoe meer ek praat en paai, hoe wilder raak die wolbol. Uiteindelik gaan sit ek ʼn bietjie, net om te sien wat die uitwerking is. Dit maak hoegenaamd geen verskil nie. Die hond het ʼn desibeloorlog verklaar en ek is besig om te verloor.


Uiteindelik gee ek maar moed op en draf verder, terwyl die skril geblaf agter my voortwoed. Ek is eers teleurgesteld oor ek toe nou nie Franciscus van Assissi of Sneeuwitjie se dierevaardighede het nie. Daardie laaste hond wou op geen manier vrede tussen ons hê nie.


Dit is eers later, op sosiale media, wat ek iets tussen mense se gesprekke raaksien.


Sommige mense is aktief op soek na konneksies, ordentlike gesprekke en nuwe oplossings. Hier en daar is daar egter wolbolle wat net graag wil blaf. Dit maak nie saak wie op watter manier antwoord nie, die trant van die gesprek ontaard telkens rampspoedig. Hulle het geen bedoeling om ordentlik te probeer wees nie.


Van toe af kyk ek ook sommer anders na die mense rondom my en nie net op sosiale media nie. Soms is daar eenvoudig diegene wat nooit die bedoeling het om vrede of voorspoed vir mekaar te soek nie. Hulle bakleiery is nie met my of met jou nie, maar met iets anders in hulleself. Ek en jy hoef dit egter nie altyd aan die gang te hou nie. Soms kan ons maar voortdraf en oper geselskap soek.


Jesus illustreer dat Hy graag met mense gesprekke voer. Ons leer sulke wonderlike dinge oor God en die lewe wanneer ons Jesus se wyse antwoorde op strikvrae lees. Hy sien egter ook raak wanneer mense nie die intensie het om iets by Hom te leer nie, maar eintlik net moeilikheid soek. Een so ʼn voorbeeld is in Markus 11:27-33. Jesus se styl met moeilikheidmakers wys dat ons soms die veglustiges moet antwoord (Spreuke 26:5) en ander kere liewer nie moet antwoord nie (Spreuke 26:4).


Kom ons soek daardie wysheid in ons lewens. Dalk het jy meer tyd en energie beskikbaar as jy sekere bakleierigheid kan laat gaan.

Comments


bottom of page