Dit gaan oor Hom, nie oor my nie
top of page

Dit gaan oor Hom, nie oor my nie


In hierdie nuwe Heilige Gees artikel skryf Stephan Joubert oor ons wat God aanbid nie om iets te kry by Hom nie.
Dit gaan oor Hom, nie oor my nie

Dit gaan nie oor jou nie! Ek praat van jou geloof. God werk nie vir jou nie. Nie eens jou gebede is geleenthede om allerlei opdragte aan Hom te gee oor wat Hy vir jou en ander moet doen nie. Dink mooi hieroor na, want te veel mense, wat ek ken, loop deesdae dikmond oor God rond. Hy het hulle glo nie gehelp, toe Hy moes nie. Hy het nie die siekte weggevat of die misdadigers gekeer nie. Ook het Hy nie vinnig genoeg kos op hulle tafel gesit nie. Daarom dat hulle nou agteraf loop en skinder dat God nie liefdevol is nie. Of dat Hy nie meer omgee nie. Wel, dit gebeur omdat baie van ons hier in ons agterkoppe die idéé het dat die Here ons tog iets skuld. Ons dien Hom; daarom moet Hy iets terugdoen vir ons!


Hoor hier, die enigste rede hoekom ons God dien, is omdat Hy God is. Hy het ons uit genade gered, toe ons verdwaal het. Hy het ons liefgehad, toe ons sy vyande was. Hy het ons Syne gemaak, toe ons ver van Hom af was. Daarom dien ons Hom. Dit gaan nét oor Hom. Ons dien Hom op Sý terme. Dit gaan oor daardie Here, wat uit die dood deur die krag van God, aan wie ons geheel en al behoort, opgewek is. Hom en Hom alleen dien ons.


Gebed

Hoor, Here, as ek bely dat ek U te veel op my eie terme wil dien. Vergeef my om Christus ontwil. Amen.

bottom of page