“Die oom bid my hamburger koud”
top of page

“Die oom bid my hamburger koud”


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor gebed.
“Die oom bid my hamburger koud”

“Pappa, die oom bid my hamburger koud!” Dit was een dogtertjie se woorde tydens ’n lewenslange gebed van een van die grootmense net voor ’n ete. Toe was daar omtrent konsternasie. Van sulke lang gebede gepraat - ek onthou hoedat die bekende prediker, D. L. Moody, een keer ‘n lewenslange bidder onderbreek het. Aan die einde van een van sy dienste het iemand in die gehoor opgestaan en baie lank gebid. Later het Moody toe opgestaan en vir die ander mense gesê dat, terwyl hierdie broer sy gebed voltooi, gaan hulle solank ’n laaste lied saamsing. In Eksodus 14:15 sê God min of meer dieselfde vir Moses. Hulle moet nou amen sê en met die volk aan die beweeg kom. Dit gebeur wanneer Moses by God pleit om die Israeliete tot kalmte te bring, wanneer die Egiptenare op hulle afstorm naby die Rooi See. Dan antwoord God vir Moses dat hy eerder nou die Israeliete aan die trek moet kry.


Dit lyk my ons moet partykeer korter bid en net begin doen wat die Here vra. Prediker 5:1-2 waarsku ons teen te veel woorde in God se teenwoordigheid. “Ken jou plek, want Hy is in die hemel en jy op die aarde!” vermaan hy ons. Dan voeg hy by: “Laat jou woorde daarom min wees.” In Matteus 6 sê Jesus ook dat ons gebede nie met ’n stortvloed van woorde gepaard moet gaan nie. God hou nie boek van die lengte van ons gebede nie. Hy weet immers wat in ons harte leef. Die Ons Vader-gebed is ons norm hier. Dit is Jesus se groot gebedsles aan ons. Dit is kragtig en kort. Bid presies so. Bid opreg. Bid kort. Bid kragtig.

bottom of page