Om dapper by die dood verby te stap
top of page

Om dapper by die dood verby te stap


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe om dapper by die dood verby te stap.
Om dapper by die dood verby te stap

Feodor Dostoyevski (1821-1881) was ’n beroemde Russiese skrywer en denker. 23 Desember 1849 was amper die einde van sy lewe. As lid van ‘n vereniging, wie se publikasies die Russiese tsaar bedreig het, is hy ter dood veroordeel. Saam met ander gevangenes sou Dostoyevski in St. Petersburg deur ’n vuurpeleton tereggestel word. Minute voor sy teregstelling het ’n amnestiedokument van die tsaar egter daar opgedaag en sy lewe is gespaar. Kort hierna skryf Dostoyevski ’n brief vir sy broer Mikhail, waarin hy oorloop van dankbaarheid. Hy vertel hy was letterlik voor die hekke van die dood, maar hy leef. Geen uitdaging of krisis sou hom ooit weer onderkry nie.


Dostoyevski se woorde herinner my aan dié van Paulus in 2 Korintiërs 1. Hy skryf hier dat hy in die stad Efese sulke ernstige vervolging beleef het dat hy gedink het hy sou sterf. Trouens, hy het alle hoop laat vaar om te bly leef. Maar toe red God hom uit hierdie doodsgevaar. Dit was ‘n wonderwerk. Paulus se lewe was tegnies verby, maar toe beleef hy dat God hom as’t ware uit die dood opgewek het. Daarom leef hy nou met hoop in die Here se nabyheid. Hy weet die lewe gaan hom nie knak nie. Paulus het die dood in die oë gekyk, maar God was hom genadig. God se genade is steeds oorgenoeg vir al sy kinders. In die skaduwee van teenstand, maar ook in die helder lig van voorspoed is Hy ons Herder en Redder. Hy dra ons totdat ons regtig eendag na Hom toe geroep word. Dan gaan ons Hom met oop arms tegemoet hardloop. Maar tot dan leef ons met hoop en met vreugde.

bottom of page