Die naakte waarheid
top of page

Die naakte waarheid


Stephan Joubert skryf in sy nuutste blog artikel oor mense wat die waarheid lief het, is reg na die Gees van God se hart.
Die naakte waarheid

Het jy ook al van “die naakte waarheid” gehoor? Interessante uitdrukking, of hoe? Dis seker omdat leuens altyd klere aanhet. Of dalk omdat halwe waarhede graag met pantoffels rondloop. Ook omdat wit leuentjies toe al die tyd pikswart is. In elk geval, die waarheid hoef nooit opgetooi te word nie. Dit kan helder lig hanteer. Dit steek nooit iets weg nie. Waarheid is oop en bloot, sigbaar, deursigtig, want dit word deur die Gees gedra en bevestig.


Mense, wat die waarheid liefhet, is mense so reg na die Gees van God se hart. Dis mense, wat nie nodig het om gedurig te onthou waar hulle wat vir wie gesê het nie, omdat hulle weet hulle praat altyd eerlik en openhartig die waarheid. Hulle gaan slaap elke aand rustig sonder ‘n gewete, wat pla oor al die waarhede, wat hulle daardie dag nek omgedraai het om hulleself te pas. Om die waarheid lief te hê, is ‘n kosbare deel van ons geloof. Om dit te praat, te dink en te leef is die sigbare handtekening op ‘n lewe van integriteit voor God en mense.


Waarheid is soos die gordel om ons middel, skryf Paulus in Efesiërs 6. Dit hou ons geestelike klere in plek. Dit ontstaan in die Gees se hart en vloei na ander toe deur jou hart, wat Hy aangeraak het. Terloops, is jou eie gordel van waarheid vandag stewig in plek? Laat die Gees dit vasmaak!


Gebed:

My tong is U s’n, Heer Jesus. Raak dit met die Gees se vuur aan. Amen

bottom of page