Die liefde dra alles
top of page

Die liefde dra alles



Ons het reeds twee belangrike beginsels geleer oor die regte gebruik van die gawes. Die eerste een is dat die Gees se gawes veroorsaak dat ons bely Christus is die Here. Tweedens word dit aan ons gegee tot voordeel van ander gelowiges. Derdens is dit die doel van die gawes om te gedy en te groei binne die bedding van God se liefde.


As deel van die Heilige Gees se “liggaamsbouprogram” gee Hy aan al sy kinders ’n gemeenskaplike geskenk, naamlik die liefde. In 1 Korintiërs 13 vertel Paulus dat dit die heel belangrikste van al Sy geskenke aan die kerk is. Terwyl die Gees ’n groot verskeidenheid gawes aan verskillende gelowiges gee, gee Hy aan ons almal saam Sy liefde. Dit is nie maar net ’n klein groepie bevoorregte Christene wat op hierdie geskenk mag aanspraak maak nie. Nee, elke Christen, groot en klein, oud en jonk, ontvang dit.

Die liefde waarmee die Heilige Gees die kerk se lewens versier, is natuurlik nie dieselfde as die liefde, wat die wêreld ken nie. Wêreldse liefde is maar ’n selfsugtige spulletjie. Dit wil net die heel tyd ontvang. In die wêreld het mense mekaar dikwels net lief as gevolg van die voordele, wat hulle vir mekaar inhou, soos hulle geld, gewildheid, en status. Hierteenoor is die Christelike liefde onselfsugtig. Dit is onvoorwaardelik op ander mense gerig.


Gebed:

Here, laat U liefde wen in die kerk. Laat dit in my lewe ook vandag wen. Amen.


bottom of page