Die krag van die klein dingetjies
top of page

Die krag van die klein dingetjies


Gedurende die Covid-pandemie en gepaardgaande inperking het die Amerikaanse ontwerper van Xbox, soos baie van ons, besluit om ook brood te bak. Brood met ‘n verskil. Hy het met behulp van ‘n Egiptoloog en ‘n mikrobioloog dormante gis-selletjies uit antieke Egiptiese artefakte ge-oes. Met hierdie klein gis-selletjies, wat vir die blote oog onsigbaar is (4 – 40 mikrometer in deursnee), het hy ‘n gisplantjie met meel en water gevoed en daarmee ‘n brood gebak. Dit was 4500 jaar nadat dit laas gebruik was om brood te bak!

Soos wat ‘n paar klein gis-selletjies ‘n kettingreaksie aan die gang kan sit, wat jaar in en jaar uit (selfs deur eeue heen) ‘n verskil kan maak, gebruik God dikwels ook “klein dingetjies” om Sy lewensveranderende werk te doen.


So was Amos ‘n nederige skaapboer, wat deur God geroep was om Sy boodskap aan die volk van Israel oor te dra. So het ‘n jong diensmeisietjie vir die groot kokkedoor, Naäman, verwys na die profeet Elisa, wat hom van sy melaatsheid kon genees, nogal met die modderige water van die nederige Jordaanrivier.

Menige spreker staan soms soos Moses bewerig voor ‘n gehoor met net sy / haar nederige “herderstaf” van ‘n hakkelende of bewerige stem. Bekragtig deur die Heilige Gees kan ook hierdie skynbaar onindrukwekkende spreker ‘n boodskap lewer, wat lewensveranderend kan wees. Ek mag nooit die lewegewende krag van hierdie suurdeeg van God onderskat nie.


Jesus het egter ook gewaarsku teen die suurdeeg van ongeloof en twyfel en die suurdeeg van wettiesheid en geestelike hoogmoed van die Fariseërs. Dit laat my dink aan my eie pogings om ‘n suurdeegplantjie te skep. Ek het geleer dat ‘n mens gis-selletjies (en natuurlik in die proses ook ander organismes) uit die lug kan opvang deur ‘n bakkie met ’n mengsel van meel en afgekoelde gekookte water oop te laat staan. Deur dit gereeld op die regte manier te “voer”, verdring die groeiende gis-selletjies naderhand die ongewenste organismes.


Deur self ontvanklik te wees vir die invloed van die Heilige Gees, gereeld die regte voeding (Bybelse waarhede) in te neem, sal ek kan groei en vir die Here bruikbaar wees om Sy suiwer gis-selletjies van ware lewe te versprei. Ek mag nie vaskyk teen my “diensmeisietjie se voorskoot” of toelaat dat my belangrike posisie in die samelewing verhinder dat die gis-selletjies van ware lewe ook ander se lewe verryk nie. Vervul met die Heilige Gees sál my lewe ‘n verskil maak.


Sagaria 4:6b

Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die HERE, die Almagtige.


Wie minag die dag van oënskynlik klein dingetjies? – Sagaria 4:10 NLV


bottom of page