Die huwelik hoort steeds in die paradys
top of page

Die huwelik hoort steeds in die paradys


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor wat die Bybel sê oor die huwelik.
Die huwelik hoort steeds in die paradys

Carmen LaBerge vertel in haar boek, “Speak the Truth: How to bring God back into Every Conversation”, dat daar in 2017 reeds 31 seksuele identiteite in New York was wat deur anti-diskriminasiewetgewing beskerm was. God verstaan egter nie sy kinders se identiteit in terme van derduisende seksualiteite van hierdie aard nie. Hy is op rekord in die Bybel dat man en vrou sy handewerke is. Mans en vroue is sy beelddraers. Nogtans setel ons identiteit heel eerste in Jesus.

Vir Jesus maak dit nie saak of ons ryk of arm is nie. En of ons Afrikaans, Duits, Engels of Zoeloe praat nie. Ook tel ons manwees of vrouwees nie die meeste punte, wanneer ons identiteit voor God ter sprake nie. Dit sê Paulus in Galasiërs 3:28 en in Kolossense 3:11. Nogtans vertel die Bybel ’n mooi huwelikstorie, wat soos ’n goue draad vervleg is vanaf Genesis 1 tot in die Nuwe Testament. Genesis se skeppingsverhale vertel naamlik hoe God mense as sy beelddraers geskep het. Hierna het Hy hulle aan mekaar as lewensmaats gegee. Dit het toe die dominante huwelikstorie van die Bybel geword. Vra maar vir Jesus. Wanneer Hyself in Markus 10 gekonfronteer word met die vraag onder watter omstandighede egskeiding wettig is, kies Hy om eerder oor die huwelik te praat. Maar Hy doen dit aan die hand van die paradysverhaal van Genesis 2.

Vir Jesus is die vraag nie hoe ontsnap jy uit jou huwelik nie, maar hoe verhuis jy na God se meesterverhaal oor die huwelik aan die begin van Genesis. God se plan vir hoe ’n man en ’n vrou lewenslank in liefde moet saamleef, is daar geanker. Daar vind Jesus die wenstorie én die agterna-leefstorie vir die huwelik. Die res van die Nuwe Testament stem een honderd persent saam, soos wat Paulus ook in Efesiërs 5 vertel. Die huwelik is God se heilige grond. ’n Gesonde huwelik gebeur wanneer huweliksmaats verhuis na Paradysstraat. Dáár is liefde, respek en deernis die boustene. Daar help vroue hulle mans om God se beelddraers te wees. (Genesis 2:18) Daar is mans lofsangers wat uitbundig saam met Adam sing, omdat hulle die lewensmaat van hul drome raakgeloop het. Daarom kleef mans hul vroue lewenslank aan, soos wat Genesis 2:24 vertel. God se liefde is steeds die Velcro vir elke gelukkige huwelik; dit is sy permanente kleef-en-leef-gom.

’n Gelukkige huwelik gebeur, wanneer huweliksmaats mekaar nie probeer domineer nie. In ’n gesonde huwelik dien man en vrou mekaar met oorgawe. Net soos wat Christus sy lewe vir sy kerk opgeoffer het, offer enige Godvresende man homself op vir sy vrou. Net soos wat die kerk haarself aan Christus diensbaar stel, doen ’n gelowige vrou dieselfde in haar huwelik. Al dienende en al opofferende wen Christus se liefde in die huwelik. So groei huweliksgenote vas aan mekaar. So word hulle een na liggaam en siel. Die huwelik is God se aardse kasteel vir sy kinders. Vandag nog rig die Here veilige kasteelmure rondom die huwelik op. God daag altyd met sy liefde in sy kinders se huwelike op. Asof dit nie genoeg goeie nuus is nie, basuin die Woord ook uit dat die paradys steeds oop is vir alle egpare, wat daar hulle geluk in God en in mekaar soek. By God is ’n goeie oorbegin en voor begin altyd moontlik, ook wat die huwelik betref.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page