Dank daardie goor leermeesters af
top of page

Dank daardie goor leermeesters af


Hoe danke ons daai goor leermeester af? Lees hoe Stephan Joubert help in sy nuutste Goeie Nuus
Dank daardie goor leermeesters af

Toe ek lees van ’n tennisspeler, wat sy afrigter afgedank het, dink ek daar’s ook ’n paar “leermeesters” in my lewe, wat finaal die trekpas moet kry. Ek praat eerstens van my foute. Vir te lank het ek die spreekwoord geglo: “’n Mens moet uit jou foute leer.” Hierdie leermeester het my eintlik wys gemaak ek moet aanhou foute maak om aan te hou leer. Of so-iets! Jesus vertel my van ’n baie beter Leermeester, die Heilige Gees. In Johannes 14:26 hoor ek Hy lei ons in die waarheid. Hy hou ons weg van goor afdraaipaaie. Hy herinner ons aan alles, wat Jesus geleer het.


’n Tweede leermeester, wat finaal moet tasse pak, is my noodaangedrewe manier van bid. Vir te lank het ek geglo nood leer bid. Toe kom ek agter dat as die nood verby is, bid ek steeds sulke noodgebede. Dan gaan dit steeds oor my eie behoeftes, waarin God moet voorsien. “Help hier!” “Red daar!” Ek weet ek mag God in moeilike tye aanroep, soos wat Psalm 50:15 leer. Maar hierdie vers sê ook vir my dat as die nood verby is, dan bid ek anders. Dan verander my gebede in lof en dank. Die regte Leermeester leer my om reg te bid en reg te leef.

bottom of page