God hou meer van ons as andersom
top of page

God hou meer van ons as andersom


In sy nuwe Goeie Nuus skryf Stephan Joubert dat God meer van ons hou as andersom.
God hou meer van ons as andersom

God hou meer van ons as andersom. Ons sing graag dat ons die Here lief het, maar te veel kere laat ons Hom in die steek. Dikwels gee ons meer vir onsself om as vir Hom. Ons stel ons eie belange te veel kere bokant God s’n. Nogtans, al het ons die Here nie altyd lief genoeg nie, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Niks kan enigiets hieraan verander nie. Sy liefde strek vanaf Jesus se kruis tot in die verste ewigheid. Sy liefde het geen einde nie. Nie eens ons klein geloof, ons struikelinge of ons oomblikke van twyfel kan ’n einde bring aan die Here se ontferming nie. Ons eie ontrouheid kan nooit Sy goedheid laat ophou nie.


In die woorde van 2 Korintiërs 4:16 is God se genade en Sy trou elke dag nuut. Die kruis van Christus roep hardop uit dat God nooit sal opgee met enigeen van ons as Sy kinders nie. Sy Heilige Gees se aanwesigheid by ons elkeen onderstreep dit. Die hart van die evangelie bruis met die goeie nuus dat Here baie meer van ons almal hou as wat ons ooit kan dink of begryp. Dit is regtig goeie nuus, of hoe!

bottom of page