Christus nooi ons binne sy verhaal in, nie andersom nie
top of page

Christus nooi ons binne sy verhaal in, nie andersom nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe ons nie Jesus in ons harte in hoef te nooi nie, want Christus nooi ons in Sy verhaal in.
Christus nooi ons binne sy verhaal in, nie andersom nie
“Ek het vir Jesus in my lewe ingenooi.”

Dikwels hoor jy sulke opmerkings. Mense nooi graag vir Jesus in hulle hart in, maar eintlik gebeur dit net mooi andersom. Jesus nooi mense in sy eie verhaal in. Dit is nie ons wat op ’n goeie dag besluit om Hom in ons lewe toe te laat nie. Dit is nie ons wat besluit ons is gereed om ons hart vir Hom te gee, of om ’n paar veranderinge aan ons lewe aan te bring nie. Nee, Jesus nooi ons na Hom toe. Dit is Hy wat ons deel maak van sy groter en ruimer verhaal. Sy eerste woorde aan ons is:

“Volg My.”

Sy roeping nog altyd is dat ons ons lewe moet opruil vir Syne. En dat ons ons harde en dooie harte moet inruil vir Syne.


As Christus ons deel maak van sy verhaal, dan word Hyself die nuwe hoof-verhaal van ons lewe. Ons leef uit Hom. Ons lewenstekste word geskryf en herskryf in terme van Jesus se woorde en dade. Ons is saam met Hom gekruisig soos wat Paulus in Romeine 6 skryf. Ons is nuwe mense wat deel is van ’n nuwe lewe met ’n nuwe Here. In hierdie nuwe lewe is Christus ons Rolmodel van liefde, opoffering en daarwees vir mekaar. Ons volg Hom as Heer. Ons pas ons lewe aan by Hom. By Jesus leer ons hoe reg en eg mens te wees. By Hom leer ons om God en mekaar lief te hê.


Hoor vandag opnuut weer hoe Christus jou nooi om jou lewe op te ruil vir Syne. Volg Hom!

bottom of page