top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Brandbom – vergifnis


‘n Onvergeetlike foto: ‘n naakte negejarige dogtertjie, wat op 8 Junie 1972 gillend reguit na die kameraman toe hardloop, weg van die skrikwekkende gebeurtenis agter haar. ‘n Suid-Viëtnamese bomwerper het pas ‘n brandbom (napalm bom) op Kim Phuc Phan Thi se dorpie in Viëtnam gewerp. Haar kleertjies het aan haar lyf aan die brand geraak en haar magdom derdegraadse brandwonde was lewensbedreigend. Sy het wonderbaarlik oorleef, terwyl haar twee nefies dit nie oorleef het nie.


Intussen het Kim Jesus as haar Verlosser aangeneem en vyftig jaar later is haar grootste behoefte om ‘n boodskap van vergifnis en vrede te kan uitdra, ten spyte van die fisieke én emosionele littekens, wat haar herinner aan daardie ontsettende dag. Sy kon selfs, toe sy die Amerikaanse koördineerder van daardie verskriklike aanval persoonlik ontmoet het, hom opreg vergewe.


Kim se boodskap is natuurlik nie net van toepassing op ‘n situasie soos in Viëtnam en die Ukraïene nie, maar ook in my daaglikse omgaan met mense, in my werk, tuis en verder. Ek mag dalk nie in so ‘n ekstreme situasie beland nie, maar dis net so belangrik om my naaste of naastes, wat my bitter teleurgestel het, te vergewe. Wanneer ek ander vergewe, dra dit by tot my eie genesingsproses. Soos in Kim se geval, gaan vergifnis slegs moontlik wees as ek, wat Christus se vergifnis vir myself toegeëien het, Sy genade ook aan iemand anders betoon deur hom / haar / hulle te vergewe.


Vergifnis is natuurlik nie bloot ‘n skakelaartjie, wat ‘n mens sommer so aanklik nie – dis ‘n proses en gewoonlik ‘n seer proses. Hierdie proses begin met die besluit om in gehoorsaamheid aan Jesus te vergewe. Dan kan ek met die krag, wat Hy my gee, vergifnis uitleef, al voel ek (nog nie) so nie. Die gevoel van vryheid en genesing kom eers later. Dan kan ek, soos Kim, ook die boodskap van vryheid deur vergifnis uitdra.


Comments


bottom of page