top of page
Writer's pictureHelena Smith

Vasbyt … amper daar!


Groot was my verbasing toe ek aan die begin van Oktober sien dat winkelsentrums reeds Kersfeesversierings het. Toe die skole ‘n week later begin en ons tydens ‘n personeelvergadering hoor wat alles tydens die vierde kwartaal moet gebeur, het ek dadelik angstig geraak. Ek dink hierdie tyd van die jaar is almal gespanne oor wat nog moet gebeur. Ons is oormoeg of dalk uitgebrand, omdat die jaar so vinnig tot ‘n einde haas. Net toe ek goed moedeloos was oor alles wat nog moet voor Desember moet gebeur, hoor ek sommer twee bemoedigende boodskappe oor volharding.


In Hebreërs 12 in verse 1 en 2 lees ons: Kom ons hardloop met volharding op die baan, wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot die eindstreep steun. By Paulus, wat vier van sy dertien briewe in die tronk geskryf het, leer ons van volharding. As dit vir jou voel asof jy net nie meer kan nie, fokus op God en weet dat Hy kan. Hy kan jou nuwe krag gee en dra deur die laaste besige deel van die jaar.


Ons leer ook by Paulus, wat in die tronk lofliedere gesing het, om ten spyte van omstandighede, oorvloedig te lewe. In Romeine 15: 13 sê Paulus: Ek bid dat die God, wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.


Hoe leef ‘n mens dan oorvloedig in hierdie gejaagde en “silly season”? Vind vreugde in die klein dingetjies. Stap soggens ‘n draai deur jou tuin. Maak tyd vir oefen, al het jy kopseer of is jy moeg. Doen iets, waarvan jy hou, al het jy net ‘n kort tydjie om dit te doen. Omdat ek baie van lees hou, het ek besluit om elke aand, voordat ek gaan slaap ‘n paar bladsye van van ‘n lekker boek te lees. Moenie dat negatiewe mense en klaers jou aftrek nie – wees jy liewer die positiewe invloed. Werk hard aan ‘n positiewe gesindheid. Dink mooi voordat jy in ‘n oormoeg toestand vir iemand iets negatiefs sê - moenie deel word van die einde van die jaar “happerigheid” nie.


Dan, natuurlik die belangrikste, maak elke dag tyd vir stiltetyd. Staan soggens ‘n paar minute vroeër op. Daardie spesiale tyd saam met God sal jou meer verfris as ‘n paar minute langer se slaap. Joyce Meyer sê die volgende: Spending time with God is the key to our strength and success in all areas of life.


Byt maar vas! Jy het al ‘n paar keer besige jaareindes beleef. Jy sal dit weer kan doen!

Comentários


bottom of page