Besembos geleentheid in lockdown
top of page
  • Writer's pictureekerk

Besembos geleentheid in lockdown

deur Ivor Swartz en Roedolf Botha


Die wêreld het versnel. Jare se tegnologiese ontwrigting, politieke onstuimigheid, en werkplekke wat nie ‘n “offline” knoppie geken het nie, het ons uit asem gelos. Die stof lê dik op leiers se emosionele gesondheid- en veral dié in die kerk. Omtrent elke predikant is geïnteresseerd in afskaal, in Minimalisme, in eenvoud, of om soos Elia die fluistering in die windstilte te hoor of beleef. Maar die inperking het ‘n sterk ontnugtering vir baie leiers gebring: “we have made busy a spiritual discipline.” En dit was nie ‘n volhoubare een nie.


In die weke en maande voor die virus kon jy amper elke keer dieselfde antwoord kry by leiers wanneer jy vra hoe dit gaan: “Nee goed; net baie besig”, of ten minste ‘n variasie van dit. Stephan sê mos altyd dat party leiers gaan jaarliks op beplande/geskeduleerde uitbranding. Maar dit was Corrie Ten Boom wat gesê het, “If the devil can’t make you bad/sin, he’ll make you busy.” Sonde en altyd besig wees het in baie opsigte dieselfde effek op ons: dit weerhou ons om nader aan God te wil beweeg, om nader aan mense te leef, en nader aan ons eie menswees te wees.


Die Lockdown-dilemma


Dié Lockdown het baie versteuring, onsekerheid en rondval veroorsaak. As die Kerk dan nou nie uit haar sluimer wil wakker word nie, sal ‘n krisis so bietjie help daarmee, grap ‘n vriend met my. Maar baie leiers is nou selfs nóg meer besig, omdat hulle moet aanpas, moet raakvat en vasvat, nuwe vaardighede aanleer, terwyl hulle steeds mense geestelik moet lei.


Ek haal my hoed af vir enige geestelike leier wie nóg nie in die tyd ‘n Elia onder die besembos-oomblik gehad het nie. Die wat nié elke slag wou opgee na die hoeveelste video-opname wat nie werk nie; wie se kinders nie moeg kan raak van speel, terwyl jy in ‘n Zoom-vergadering sit, met swak internet nie. Daar is ook sekerlik heelwat leiers wie soos Elia gesê het in 1 Konings 19:4, “Nou is dit genoeg, Here!” Leiers vir wie dit emosioneel swaar en dreinerend is om alles wat jy geken het, hoe jy gelei het, hoe jy geleer en lewe aangepak het, so deurmekaar te sien. En daar is so min van dit wat in jou beheer is - maak nie saak watse leierskap vaardigheid of toerusting jy tot jou beskikking het nie.


Wat kán die leier beheer?


Wat elke leier egter kán beheer, en die beste aan kan werk in hierdie tyd, is sy of haar eie innerlike wêreld. Dit wat in sy of haar binnekamer plaasvind, hoe die leier hul emosionele reaksies op die chaos en krisis hanteer en beheer. Parker Palmer sê, “A leader is a person who must take special responsibility for what’s going on inside him- or herself, inside his or her consciousness, lest the act of leadership create more harm than good.” Leiers móét eerstens verantwoordelikheid kan vat vir hul eie innerlike wêreld voor hulle die gewig en verantwoordelikheid kan aanvaar om ‘n organisasie gesond te kan lei deur krisistyd. Anders kry ons baie besige leiers, maar ook baie gebroke leiers. En dit is so dat God se werk in die wêreld ons beste energie verdien, en nie noodwendig ons besige energie nie.

En hierdie Lockdown, in al sy vlakke, kan hopelik ‘n “besembos geleentheid” wees vir leiers wat laag is op energie, min het om te gee, en steeds soveel eise op hul skouers het. Dis ‘n geleentheid om te rus, te eet, en reg te maak vir die lang pad wat voorlê - soos Elia moes gedoen het. Dit is vanuit daardie plek, van rus, eet, en voorbereiding vir die lang pad, wat jy weer vars brood sal hê om te gee, wat warm is uit die oond van jou persoonlike verhouding met die Here wat verdiep het in hierdie tyd. Want, wat sal dit ‘n leier tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy lei skade aan jou diepste menswees? (Matt. 16:26)


Wat staan ons te doen?


Dit is verseker nuttig om te lees wat die groot tendense in die leierskap-wêreld is. Dit help om te leer en luister na wat ander kenners bevind het, en om deur die data te sif sodat dit kan sin maak vir jou konteks. Dit help verseker om digitale teenwoordigheid te skep en verskillende platforms te gebruik om met mense te “connect”, en te sien wat ander organisasies en gemeentes doen.


Maar meer as dit alles, is dit uiters belangrik en nodig om te hoor wat die Here in die leier se eie hart en gedagtes fluister oor jou rol en roeping in die ongekende waters. As dit is om aan te gaan soos jy doen, hou so aan. Doen dit met die beste energie tot jou beskikking. As dit is dat jy meer na binne moet kyk, en minder na buite, maak die nodige skuiwe om daar te kom.


Noise-cancelling habits


Clay Scroggins, in sy boek, “How To Lead In A World Of Distraction”, praat van vier noise-cancelling habits (geraas-dempende gewoontes) wat leiers kan help om deur die geraas en chaos te sif sodat jy met meer intensionaliteit kan luister na God, jou hart, en jou emosies.


1. Find simplicity

Dis belangrik vir leiers om die breedte van hul kapasiteit te ken en te erken. Wees bewus van wat jy alles WIL DOEN, wat jy KAN DOEN, en wat jy MOET DOEN. Vra jouself dan af, “Waaraan moet ek laat gaan sodat ek maksimum energie kan insit by dit wat God nou op my tafel sit?”


2. Speaking to yourself

Hierdie een klink “silly”, maar tog praat ons elke dag met onsself- al is dit net in ons koppe. Ons het ‘n stem wat maklik irrasionele vrese, twyfel, en onsekerheid kan plant, maar wat ons ook kan aanmoedig, laat diep dink, en teenwoordig laat bly. Maak tyd om te luister en uit te vind na watter stem jy die meeste aandag gee.


3. Getting quiet

Die masker-dra in die tyd is dalk ‘n goeie manier om ons te herinner dat dit ons harte en gedagtes goed doen om soms net stil te wees. Om doelbewus tyd in die dag uit te sit vir stil wees. Stil wees is ook ‘n geleentheid om te sê, “Ek staan terug van werskaf om die wêreld ‘n beter plek te maak, en is reg om te luister na die Een wat my ‘n beter mens maak.


4. Press pause

Evalueer dit waarmee jy besig was in die laaste week of twee. Hoe het dit bygedra tot wie jy in Christus is? Kan jy die “pause” knoppie op van dit druk sodat jy kan asemhaal, kan beter slaap, kan beter luister, en meer teenwoordig kan wees? Doen dit.


Vriend, leier, geliefde van Christus, mag jy in hierdie onbekende weke en maande wat voorlê, Jesus se uitnodiging hoor en opnuut aanvaar: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee... en julle sal rus kry vir julle gemoed”- Matt. 11:28a-29b.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page