WWJD
top of page

WWJD


Ivor Swartz skryf in sy nuutste My Lewe nuusbrief oor hoe ons anders moet dink oor die konsep, :What would Jesus do?"
WWJD

Onthou jy toe omtrent elke Christen en ook talle nie-gelowiges die “WWJD” armbandjie gedra het? Dit was verseker een van die grootste modes in die Christen-kultuur, naas ‘n kruis om jou nek, dink ek? “What Would Jesus Do” was ‘n baie groot vraag om mee gekonfronteer te word elke keer wat jy dalk sou wou aanjaag of selfsugtig of liefdeloos optree.


Ek onthou ek het ‘n rooi een gehad, met die WWJD letters in wit. Maar ek het daardie woorde net ernstig opgevat wanneer dit my pas; wanneer ek self kan bepaal wat Jesus sou gedoen het; wanneer dit maklik was om te doen wat Jesus sou gedoen het. Op dié manier was ek eintlik in beheer van die vraag en van die antwoord. Op dié manier sou Jesus altyd doen wat vir my gemaklik is. Op dié manier kon ek elke keer uitstel, veilig speel, of net nie ag slaan op die vraag, “maar wat sou Jesus regtig doen?”


Gelukkig gee Jesus ons nie daardie luuksheid om self die “terms and conditions” te bepaal om Hom te volg nie.


Hy loop voor en gee leiding.


Ons stap agter Hom aan en volg in Sy voetspore.


En al soek ons soms loopholes en probeer ons kortpaaie vind, bly Sy uitnodiging en opdrag dieselfde: “Volg My!”


Aan die einde van Johannes 21 lees ons hoe Jesus vir Petrus vertel deur watter soort dood hy God gaan verheerlik. Jesus spel amper vir hom die “terms and conditions” uit. Ek dink dit moes nogal moeilik vir Petrus gewees het om te hoor. Dis hierdie einste Petrus vir wie Jesus ook vooraf gesê het dat hy Hom sal verloën. En tóg sê Jesus vir hom, ‘ten spyte van jou droogmaak, jou hardkoppigheid, jou wegskram toe Ek gearresteer word, “Volg My!”


Jesus doen wat ek omtrent daagliks mee sukkel - met of sonder my WWJD armbandjie. Ek sukkel met daai tweede kans gee. Ek sukkel om iemand tot beter te nooi, vir die derde of vierde keer na hulle opgemors het. Ek sukkel om verby ‘n persoon se droogmaak te kyk, en hulle te hanteer soos iemand vir wie Jesus ook gesterf het. Is dit nie die ware betekenis van “What Would Jesus Do” nie? Dat Hy Sy lewe gegee het vir mense soos ek en Petrus; ons wat nie altyd bereid is om met soveel toewyding agter Hom aan te stap en Hom te volg nie?


Ek onthou ook die keer tydens my student jare, toe ‘n vriend gevang was rook terwyl ons op toer was by ‘n klomp skole in die land. Ten spyte van die een pastoor wat gesê het, “jy gaan nie hel toe as jy rook nie; dit ruik net of jy van daar af kom”, het ons leier - met sy blou-en-wit WWJD bandjie - nie twee keer gedink om hom van die toer af te skors nie. Hy het gereken dit is wat Jesus sou doen.


Ek weet nie of Jesus al iemand gevang het rook nie. Maar Hy het al voor iemand gestaan wie in die daad van owerspel betrap was, en vir haar gesê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan dan, en sondig nie meer nie.” Ek wonder of ons nie wat Jesus eintlik gedoen het en hoe Hy opgetree het, soos ons dit lees uit die vier Evangelies, na armbandjie-slagspreuke soos dié uitgekontrakteer het nie; sodat dit ons narratief kan pas nie.


Ek wonder of ons nie die WWJD bandjies (en ander tierlantyntjies soos dit) moet wegbêre om eers weer te gaan kyk na Jesus se woorde en lewe uit die Bybel nie. Om weer opnuut te hoor, “VOLG MY”. Dalk beweeg ons dan weg van “what WOULD Jesus do” (WWJD) na “What DID Jesus do” (WDJD).

bottom of page