Episode 12 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 12 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oefening Lees gerus die hele Romeine 16 deur en beantwoord die vraag met verwysing na die netwerk van medewerkers, wat saam met Paulus gewerk het. Paulus is geen Lone Ranger nie. Hy werk in gemeenskap saam met ander mense. Maak ‘n lys van al die name wat hier genoem word. Kyk wat daar oor elkeen gesê word. Dink eerstens dan ‘n bietjie na en skryf ‘n kort paragrafie in jou eie woorde oor die liefdesgemeeskap, wat saam met Paulus gewerk het. Tweedens kan jy vlugtig nadink oor wat die implikasies is vir ons individualistiese kultuur vandag. Skryf hieroor ook ‘n paar gedagtes neer. Oordenking Net ‘n paar gedagtes oor sommige van die figure in hoofstuk 16:

  • Febe (16: 1) was heel waarskynlik deel van die leierskapampte in die gemeente in Korinte en kon heel moontlik die draer wees, wat Paulus se brief na Rome geneem het.

  • Priscilla en Akwilla (16: 3) was medewerkers van Paulus, wat in Korinte ontmoet het. Paulus het ook saam met hulle gewerk in Efese (vgl. Handelinge 19). Dié Joodse man en vrou was deel van die Romeinse gemeente en het baie goeie liefdeswerk daar gedoen.

  • Epenetus (16: 5) was Paulus se heel eerste bekeerling en vriend uit die provinsie Asië. Deur al die jare het hulle twee kontak behou en was hulle lojaal teenoor mekaar.

  • Van Andronikus en Junia (16: 7) weet ons nie veel nie, behalwe dat hulle heel moontlik ooggetuies kon wees van die aardse Jesus.

  • Rufus (16: 13) was waarskynlik die seun van Simon van Sirene, wat Jesus se kruis in Markus 15 gedra het.

  • Timoteus (16: 21) was afkomstig uit Listra, ‘n stad in Klein-Asië. Sy ma was ‘n Jodin, wat later in Jesus begin glo het. Sy pa was ‘n Griek. Hy en Paulus het ontmoet op Paulus se tweede sendingreis en hy het Paulus se medewerker en medereisiger geword saam met Silas. Vir meer inligting oor hom lees gerus 1 Korintiërs 16: 10, Handelinge 14: 6,16: 1 - 3, 20: 3 - 6, Filippense 2: 19 - 23, 2 Timoteus 1: 5

Sluit hierdie reis deur Romeine af deur te bid en vir die Here dankie te sê vir die bediening van Paulus.

GEBED: Liewe Here! Baie dankie vir Paulus se denke en veral sy brief aan die Romeine, wat vir ons bewaar gebly het. Gee ook vir ons Paulus se hart vir U evangelie en ook sy hart en lojaliteit vir die mense met wie ons elke dag moet saamwerk. Dankie vir die vryspraak asook die wysheid, wat ons kon vind sodat ons ons lewens elke dag voluit hieruit kan leef. Leer ons om getrou te bly aan die Goeie Nuus van Jesus en elke dag as lewende offers vir Hom te leef.

bottom of page