2020: Lesse vir die toekoms
top of page

2020: Lesse vir die toekoms


Helena Smith skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor "2020: Lesse vir die toekoms"
2020: Lesse vir die toekoms

“Life is difficult.” So begin dr. M. Scott Peck, ‘n psigiater, sy boek, The road less travelled. Ek dink almal van ons kan na 2020 sê dat die lewe inderdaad moeilik is. Ons is almal geraak deur Covid 19. Almal van ons het die inperking beleef. Sommige mense het dalk hul werk verloor en ander se salaris is dalk dramaties gesny. Party van ons het geliefdes aan die dood afgestaan. Sommiges was vir lank afgesny van hul geliefdes, wat ver woon.


Tog dink ek ons het waardevolle lewenslesse in 2020 geleer, lesse wat ons beslis in 2021 moet toepas. Ek het in 2020 ervaar dat die lewe soms verskriklik, soms doodgewoon en partykeer ongelooflik is. Ek het geleer om die doodgewone te geniet. Skielik het ek tyd gehad om huis skoon te maak, kaste reg te pak en ek het weer ontdek dat ek daarvan hou om te bak. Ek en my man het vir ure op die stoep gesels en die natuur geniet. Mag ek in 2021 onthou om die doodgewone steeds te geniet. Mag ek onthou dat ek en my man heerlik saamgekuier het en mekaar se geselskap geniet het. Ek hoop dat ek sal onthou, as 2021 op ‘n drafstap wegtrek, ek steeds genoeg tyd moet maak vir my huweliksmaat.


Terwyl ons die verskriklike van die inperking ervaar het en letterlik gesien het hoe mense verarm, het ek gesien hoe goed mense se harte is. Iemand het geld ingesamel vir ‘n vriend wat sukkel. Ek het gesien hoe mense kos uitdeel aan die mense wat in asblikke krap vir herwinning. Mag ons in 2021 onthou om goed te wees vir mekaar.


Iets wat my gedurende die inperking opgeval het, is dat die mens van nature ‘n planmaker is. Pas nadat die grendelstaat afgekondig is, het entrepreneurs na vore getree en fluks begin maskers maak. Mense wat hulle werk verloor het, het allerlei planne gemaak om ‘n inkomste te verdien. Mag ons aanhou planne maak!


Ek is tegnologies gestrem en as onderwyseres moes ek blitsvinnig my rekenaar beter leer ken om virtueel te kon skoolhou. Ewe skielik het ons almal geleer van Zoom en Google Classroom. Mag ek in 2021 onthou om steeds leergierig te wees en uit my gemaksone te beweeg.


Ek het in 2020 gesien dat die meeste mense vasbyters is, wat in moeilike tye moedig die opdraande uitstap. Ek het ook geleer dat elke donker wolk ‘n silwer rand het en dat Jesus vir ons hoop gee. Kom ons hou aan om in 2021 na die silwer randjie van ‘n onweerswolk te soek.


In Matteus 9:49 en 50 lees ons: “Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk. Sout doen goeie werk.” Mag ons lewens in 2021 soutkwaliteit hê en mag ons nie die kosbare lewenslesse van 2020 vergeet nie!

bottom of page