'n Slegte ruiltransaksie
top of page

'n Slegte ruiltransaksie


Terwyl God vir Moses die Tien Gebooie op die Berg Sinai gegee het, het die Israeliete gekla omdat dit so lank geneem het. Die volk het by Aaron gesmeek vir 'n god wat hulle kon sien, aanraak en aanbid. Hulle het toe al die goud wat hulle in die hande kon kry, bymekaargemaak en gesmelt. Toe maak hulle 'n goue kalf wat hulle kon aanbid. Die ironie is, dat die oomblik toe God vir Moses vertel het om geen ander gode te aanbid nie, die volk hulle eie afgod gemaak het.

Die Israeliete het die Skepper God verruil vir 'n god wat hulle self gemaak het. In Psalm 106:20 in die NLT lees ons: "They traded their glorious God for a statue of a grass-eating bull." Ons mag dalk nie beeld aanbid nie, maar ons is nie regtig anders nie. Ons vervang God met beelde wat ons self geskep het. Miskien is dit 'n huis wat gedurig opgegradeer moet word, totdat dit die mooiste in die straat is. Dalk is jou werk en sukses daarin jou afgod. Party mense spandeer soveel tyd aan hulle werk, dat daar min tyd oor is vir God. Dalk is jou kinders jou afgode. Natuurlik bestee ouers baie tyd aan hulle kinders, maar as jou kinders en die najaag van hulle prestasies, te veel tyd in beslag neem, kan dit 'n afgod wees. Soms is jou eie liggaam en die strewe om dit perfek te maak 'n afgod.

Enigiets wat jy najaag en 'n aktiwiteit waaraan jy te veel tyd en aandag bestee, word later 'n afgod. Is dit werklik 'n goeie ruiltransaksie om die God van Vrede te verruil vir iets wat slegs tydelike bevrediging bring?

In Eksodus 32 lees ons wat gebeur het toe Moses van die berg afgekom het. Hy was woedend en het die goue kalf laat opkap totdat daar net poeier oor was. Die poeier het hy toe in die mense se drinkwater gestrooi. Op die harde manier het die Israeliete geleer, dat dit wat hulle geglo het hulle sou bevredig, op die ou end 'n bitter smaak gelaat het.

Miskien het dit tyd geword vir 'n bestekopname in ons eie lewens. Is God werklik ons eerste prioriteit, of verruil ons Hom dalk vir tydelike, aardse afgode?


bottom of page