top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Wat sê die spieël?


Vanoggend speel ek so ʼn bietjie met Kelvin, ons huiswerker se baba. Hy is agt maande oud en te oulik vir woorde met sy twee tandjies en fluweelsagte melksjokolade-velletjie. Op ʼn stadium hou ek hom voor die groot spieël in ons kamer.

Kelvin is stom van verbasing – ek dink nie hy het homself al ooit in ʼn spieël gesien nie. Hy lag en gesels en voel met sy handjies. Hy spring op en af in my arms. Hy probeer die beeld soen en is heel verbaas oor die feit dat hierdie mensie in die spieël dan nou so hard, koud en plat voel.

Dit laat my dink aan spieëls in die Bybel.

“Nou kyk ek nog in ʼn dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ek alles sien soos wat dit regtig is.” (1 Korintiërs 13)

Net soos Kelvin nog nooit in ʼn spieël gekyk het nie, staan ek voor ʼn heilige spieël waar die beeld dof is en bly ontwyk. Ek kan nie sien nie, so al asof daar skille voor my oë is. Kan jy jou die dag indink as God die beeld openbaar? As ons uiteindelik volmaaktheid sal sien, as dit wat nou te helder vir ons aardse oë is, duidelik sal word? Die dag as ons Christus sal sien! “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” (Hebreërs 1)

Die tweede spieël waaraan ek dink, is dié waarvan Paulus in 2 Korintiërs 3 praat: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid van die Here wat van ons uitstraal, neem steeds toe.”

Ek kyk dikwels in die dowwe spieël en probeer my bes om dit wat verborge is te sien. Moet ek nie dalk wegdraai van die dowwe spieël en Christus se gesig vir die wêreld wys nie? My gesig is die spieël waarin ander kyk om Hom te sien. En dit hang van mý af of die wêreld Hom sien. Boonop kan ek Hom in ander gelowiges se gesigte sien!

Die ander Bybelse spieël wat by my opkom, is dié in Jakobus 1: “Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ʼn spieël kyk: hy bekyk homself en gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.”

Eintlik sluit die drie verwysings na spieëls baie mooi by mekaar aan: As ek sterf as die persoon in Jakobus 1, gaan die wêreld Christus nooit op my gesig kan sien nie en gaan ek dalk ook nie die geleentheid kry om in God se helder spieël te kyk nie...


bottom of page