Om te sing oor nuwe skoene
top of page

Om te sing oor nuwe skoene


Ek onthou die verhaal wat Mark Buchanan iewers gedeel het van ‘n erediens wat hy in Uganda bygewoon het. Een van die vroue in die diens het hardop gesê hoe goed Christus vir haar is. Toe die aanwesiges vra dat sy hulle hiervan moet vertel, het sy gesê: “For three months I prayed to the Lord for shoes. And look!” Toe wys die vroutjie haar doodgewone skoene vir almal. Dit was waarskynlik ’n paar goeie “secondhands.” Dadelik het al die gelowiges God begin dank. Almal in die kerk het saam met haar feesgevier oor haar nuwe skoene. Buchanan vertel hy was die enigste persoon wat daardie dag nie uitbundig saam feesgevier het nie. Hy het te skaam gekry. In Kanada waar hy bly, bid niemand drie maande lank vir ’n nuwe paar skoene nie. Nog minder sê enigiemand vir God hardop dankie as hulle die hoeveelste stel nuwe skoene kry. Onnadenkend gooi hulle sommer al hulle ou skoene (wat meeste van die tyd nog relatief nuut is) in die asblik.

Toe kry ek ook skaam, want my kas is propvol skoene en klere. Daar is so baie klere dat ek dit alles in ’n groot hangkas agter toe deure wegsteek. Dalk doen jy dit ook. Lyk my, dit is dan tyd dat jy en ek dankbaar moet wees vir God se guns oor ons. Nee, ons gaan nie maar net weer daardie flou uitdrukking gebruik: “ek moet my seëning tel” nie. Jy en ek gaan dit nou doen. Kom ons bid en sê vir die Here hier en nou dankie.

Gebed

Dankie Here dat U my oorlaai.

Ek wil my seëning tel, maar daar is heeltemal te veel om op te noem.

Dankie vir elke stukkie brood, elke kledingstuk.

Dankie vir vriende, familie, vreemdelinge wat omgee.

Ek beleef genade op genade uit U goeie hand.

Dankie, dankie!

In Christus se Naam.

AMEN


bottom of page