Padwyser
top of page

Padwyser


Ek het Psalm 143:10 onlangs opnuut ontdek. Veral die tweede gedeelte van hierdie mooi vers gryp my aan die hart. Hoor dit gou weer: “Laat u goeie Gees my lei op ‘n pad wat gelyk is” (NLV). Padwyser- dis presies wie die Heilige Gees is. En nie sommer enige pad nie. Nee, die Gees ken eintlik net een pad. Ek praat van die pad na die hemelstad.

As die Gees jou leermeester is, dan kan jy nooit vir altyd verdwaal nie. Want Hy ken die pad waarop jy moet loop soos die palm van sy hand. Nee, jy hoef dit nie self te ken nie. Ook hoef jy nie die roete te vind nie. Dit gaan eintlik nie eens oor die pad nie, maar oor die Padvinder, oor Hom wat met jou saamstap. Daarom hoef jy jou nie oor al jou lewensroetes te kwel nie. Al wat saakmaak is of jy vir Jesus ken. Want as jy Hom ken, is die Gees by jou. So skryf Paulus daar in Romeine 8:9. Daarom kan jy maar weet- Hy sal jou op koers hou. En as jy afdwaal sal Hy jou kom opsoek en terugplaas op die pad.

Die Gees is altyd oppad na ‘n eindbestemming toe. Hy laat jou nie rigtingloos rondmaal hier op aarde nie. Maak jou hart vandag wawyd oop vir Hom. Luister na God se Woord. En jy sal die regte pad vind. Nee, die Gees sal jou op die regte pad hou!


bottom of page