Leier Nuusbrief — April 2019
top of page

Leier Nuusbrief — April 2019


Ekerk Leier Nuusbrief Header

Een valk en drie kraaie

Ken Blanchard vertel dat hy onlangs kraaie gehoor het wat ‘n groot lawaai maak. Toe hy opkyk sien hy drie kraaie en bokant hulle sirkel ‘n valk. Die kraaie was hieroor baie ongelukkig en daarom al die lawaai. Die valk het oënskynlik hom nie aan die kraaie gesteur nie. Hy sweef op die lugstrome en klap net af en toe sy vlerke. Die kraaie was ontsteld, want die valk het hulle terrein betree. Hulle duik uit verskillende rigtings op die valk af om hom van koers te kry. Ten spyte van die lawaai en dreigende houding van die kraaie, lyk dit asof dit die valk geensins pla nie. Om hulle pogings vol te hou, moes die kraaie baie meer energie gebruik as die valk. Stadig beweeg die valk steeds hoër op die lugstrome. Die kraaie vind dit toenemend moeiliker om by te bly. Uiteindelik is die kraaie te moeg om die valk verder te pla. Hoekom het die kraaie die valk gehinder? In die dierewêreld staan dit as “mobbing” gedrag bekend. Die valk was ‘n bedreiging vir die kraaie so hulle werk saam om die valk te molesteer in ‘n poging om hom weg te dryf. Hierdie gedrag is natuurlik nie net beperk tot diere nie. Ons kry dit by mense ook. Soms as jy ‘n leier is, kan jy voel soos ‘n valk wat deur ‘n klomp kraaie toegetakel word. Hier is ‘n aantal lesse wat ons by die voëls kan leer:

1.Jy moet verwag om deur te loop

Een van die primêre strategieë van hierdie “mobbing” voëls is om op die insypelaar te ontlas. Skinder, rugstekery, passiewe aggressie en selfs weerstand is deel van die leier se speelveld. Hulle moet dit maar verduur. Moenie verbaas wees as dit gebeur nie. Maak nie saak hoe edel jou bedoelings is nie, daar sal altyd mense wees wat nie hou van dit wat jy doen nie. Hulle sal jou daarvan laat weet.

2.Verstaan verdediging

Die kraaie het die valk gemolesteer vir ‘n baie goeie rede – hulle was bang. Mense, net soos voëls is bang as hulle terrein bedreig word. Nou tree hulle verdedigend op. As jou mense tekens toon van ‘n trop mentaliteit moet jy vining optree en uitvind waarom hulle bang is, die oorsake van hulle vrees moet dan hanteer word. Ons is so geneig om die simptome en nie die werklike oorsaak te hanteer nie.

3.Kontroleer jou motiewe

Die valk is nie heeltemal onskuldig nie. Hoekom vlieg hy in hierdie terrein? Ons weet nie. As leiers moet ons duidelik weet wat ons motiewe is. Is ons besig om onsself te dien of wil ons ander dien?

4.Moenie dat jou aandag afgelei word nie

As jou gedrag deur die regte motiewe gedryf word, moenie dat kritici jou aandag aflei nie. Bly gefokus op jou doelwitte. Die valk is nie deur die kraaie verras nie en hulle het ook nie sy aandag afgetrek nie. Hy het geweet die kraaie sal mettertyd moeg word. As jy kies om ‘n leier te wees, kies jy om ‘n tree weg te tree van die trop. Jy sal gekritiseer word en daarmee saam kom baie afleidings. Bly gefokus. Bly ‘n valk en moenie dat die kraaie jou pla nie.

5.Styg bo die trop uit

Uiteindelik het die valk buite bereik van die kraaie uitgestyg. Michelle Obama is gevra hoe haar kinders die erge kritiek op hulle pa hanteer. Sy sê; ”When they go low, we go high.” Leiers moet die hoë pad volg in hulle reaksie op die kritici – oorweeg die bron van die kritiek, leer daaruit wat jy kan en reageer met integriteit en ordentlikheid. Klim na hoër hoogtes en moenie dat die kraaie jou aftrek nie.

Die feit dat jy ‘n valk is, beteken nie noodwendig dat jy ‘n leier is nie. Die feit dat iemand ‘n kraai is, beteken nie dat jy hom moet verdoem nie. Jy moet self besluit of jy ‘n valk of kraai of ‘n ander dier is wat jou leierskap verteenwoordig. Volg hierdie leierskapslesse om bo die trop uit te styg na die sukses wat jy verdien.

Hoe gee God sy visie aan sy kerk?

Wat het ‘n kerk nodig om te groei? Party mense sê dit is goeie prediking; ander sê dit is ‘n lewendige kinderbediening. Rick Warren sê hulle is almal belangrik, maar hy glo nie dat dit die belangrikste is nie. Hy glo jy moet met leierskap begin. Leierskap berus op ‘n visie. Charisma maak nie ‘n groot leier nie. Visie maak wel ‘n groot leier. As leier moet jy gedurig die visie aan die gemeente verduidelik. Met verloop van tyd word dit moeiliker en moeiliker, maar ook belangriker. Waar kry jy ‘n visie wat jou gemeente hierdie jaar sal laat groei? Jy moet dit by die Heilige Gees kry. God se visie verouder nie en word nie met verloop van tyd ontoepaslik vir ons modern wêreld nie. Hoe kommunikeer God hierdie visie aan ons? Warren sê dit gebeur in drie stadia:

1.God vertel my wat hy gaan doen

Die “wat” kom altyd voor die “hoe” en die “wanneer.” Hoe weet ons wat God wil hê ons moet doen. Luister na wat God in die Bybel sê wat ‘n kerk behoort te doen. Onthou die gemeente is nie jou gemeente nie – dit is Jesus se gemeente. Hy het die kerk begin en sy lewe vir die kerk afgelê. Hy het sy Gees gestuur om die kerk te lei en Hy sal eendag na sy kerk terugkeer. Hy het reeds verklaar wat die kerk moet doen en dit is ononderhandelbaar. Begin met die doelwitte wat God in die Bybel vir die kerk stel. Vra dan vir God hoe Hy wil hê jy dit in die gemeente moet toepas.

2.God vertel vir jou hoe hy dit gaan doen

Meeste gemeentes ontwikkel hulle eie strategie en planne. Dit misluk en hulle moet dan na God terugkom.

3.God vertel vir jou wanneer Hy dit gaan voltooi

God se tydsberekening is absoluut korrek. Alles wat God doen, is genade-optrede. Dit is nie jou verantwoordelikheid om die kerk te bou nie. Dit is jou verantwoordelikheid om getrou te bly. Die visie van die gemeente behoort aan God.

Probleemoplossing – dink aan wat jy kan doen en nie wat jy behoort te doen nie

‘n Egpaar en hulle twee seuns eet een aand by die restaurant Ostaeria Francescana. Die vader bestel een van die restaurant se bekendste disse “slakke onder die aarde.” Hy bestel vir almal. Hierdie slakke word as ‘n sop bedien. “Slakke onder die aarde" word bedek met bestanddele wat bestaan uit koffie, neute en swart truffel. Dit word onder ‘n room gemaak van rou aartappels en knoffel skuim bedek. Toe die maitre d’ die bestelling neem, sien hy die twee seuntjies is bekommerd. Hy vra vir hulle wat hulle wil hê. Sonder om te twyfel antwoord hulle “pizza”. Die restaurant is nie die soort plek wat pizzas op sy spyskaart het nie. Die matre d’ bel die plek in Modena wat die beste pizzas maak en bestel twee pizzas. ‘n Huurmotor bring die pizzas en hulle word bedien. By goeie restaurante is dit ondenkbaar. Die kinders en hulle ouers sou nooit hierdie optrede vergeet nie. Die maitre d’ sê dat al wat nodig was, was ‘n koersverandering en twee pizzas. Niemand hou van ‘n moeilikheidmaker by die werk nie, of van mense wat van die uitgewerkte plan afwyk nie. Ons hou nie van mense wat die reëls breek nie. Daar is egter mense wat reëls breek en daarmee ‘n bydrae maak. Rebelle soos hierdie verdien ons respek en aandag, want hulle kan baie vir ons leer. Een van die grootste lesse is dat as jy voor ‘n uitdagende situasie staan – kinders wat ‘n pizza wil hê - doen ons wat ons behoort te doen in plaas daarvan om te vra: Wat kan ek doen? Diegene wat vra wat kan ek doen, kom met baie kreatiewe oplossings na vore. As ek vra wat behoort ek te doen, het ek baie, maar net een oplossing. By die werk word die een wat vra wat ek kan doen dikwels gesien as die een wat alles vertraag. Sy vrae voeg voortdurend nuwe opsies by. Rebelle verstaan dat dit altyd voordelig is om tydsdruk te weerstaan. Kaptein Chesley B. Sullenberger het kort na opstyging van die La Guardia lughawe in Januarie 2009 in ‘n swerm voëls vasgevlieg. Die vliegtuig verloor beide enjins. Sully het 150 mense aan boord gehad en baie min tyd om te besluit. Daar is nie baie landingsplekke in ‘n stad vol wolkekrabbers nie. Die ooglopende keuse was om op die naaste lughawe te probeer land. Dit sou ‘n katastrofe gewees het. Hy besluit om in die Hudson-rivier te land en almal is gered. Rebelle veroorsaak dikwels meningsverskille. En konflik. ‘n Bietjie spanning is ‘n positiewe ding. Navorsing wys vir ons dat daar meer oorspronklike oplossings na vore kom as daar spanning is. Ons is dan ook geneig om alternatiewe te ondersoek. Sommige groot firmas stel selfs ‘n duiwelsadvokaat aan om alle voorstelle te kritiseer. Mense wat gevra word om twee doelwitte wat oënskynlik teenstrydig is te bereik, is dikwels baie innoverend. Konflik en verskille kan uiteraard te ver gaan en alles ontwrig. Maar om dinge ‘n bietjie moeiliker te maak kan dikwels beter resultate lewer. As personeellede sien dat die leier iets onverwags doen, weet hulle hulle werk op ‘n plek waar om twee pizzas vir twee kinders te bestel nie op neergesien sal word nie. Dit is ‘n plek waar rebelle tuis voel.

Geld die tien gebooie nog vir ons

Andy Stanley het onlangs die kat in die hoenderhok gegooi toe hy gesê het dat Christene moet ophou om die Tien Gebooie te vertoon in hulle kerke en eerder die monumente toewy aan die bergrede. Hy redeneer dat die tien gebooie die ou verbond is en nie meer geld vir gelowiges nie. Deelnemers aan die nuwe verbond (Christene) hoef nie die gebooie wat ons in die Ou Testament kry, te gehoorsaam nie. Deelnemers aan die nuwe verbond moet net een gebod – die liefdesgebod – gehoorsaam. Hierdie nuwe verbond vervang alles wat vantevore bestaan het. Net soos die nuwe verbond die ou verbond vervang het, vervang Jesus se nuwe gebod al die ou gebooie. Stanley glo dat baie van dit wat die kerke in die verlede verkeerd gedoen het, was omdat hulle aspekte van die ou en nuwe verbond probeer meng het. Alhoewel Jesus in die Ou Testament voorspel word, het Hy nie gekom om die ou verbond uit te brei nie. Hy wil weet waarom Christene verby die kruis reik om by die ou verbond, wat net tydelik en minderwaardig was aan die verbond vir ons vasgestel by Golgota, te leen. Die Hebreërskrywer sê immers: So het Jesus dan ook van ‘n beter verbond borg geword(7:22). Hy glo die nuwe verbond berus op beter beloftes. Ons was buitendien nie ingesluit in die ou verbond nie. Hoekom veg ons dan daarvoor? Stanley se argument stem ooreen met dié in sy onlangse boek: Irresistible; Reclaiming the New that Jesus Unleashed for the World. Daarin praat hy van “covenant leftovers.” In ‘n vorige preek het Stanley gepleit dat Christene hulle van die Ou Testament moet losmaak. Om dit te regverdig verwys hy na Handelinge 15 wat beskryf hoe die vroeë kerkvaders besluit het dat nie-Joodse bekeerlinge nie meer streng die Joodse wet moet onderhou om Christene te word nie. Hy skryf: "[First century] Church leaders unhitched the church from the worldview, value system, and regulations of the Jewish scriptures. "Peter, James, Paul elected to unhitch the Christian faith from their Jewish scriptures, and my friends, we must as well.” Wat die Christelike godsdiens begin het was die opstanding van Jesus en nie die Ou Testament nie. Baie gesiene kerkleiers het hulle van Stanley se standpunte gedistansieer en sê dat hy die verwarring wat hy geskep het moet regstel. "He can preach against legalism and against Judaizing, exalting the grace of God and celebrating the newness of the New Covenant, without undermining the very foundations on which that New Covenant is established." Ray Ortlund verwerp ook na Stanley se siening. Hy verwys na 2 Timoteus 1:3 – 8 waar Paulus aan Timoteus skryf en hy sy godsdienstige erfenis deur Judaïsme beklemtoon. Paulus gaan terug na sy diepste wortels. Hy erken die geloof wat deur Abraham, Moses en Dawid na hom gekom het.


bottom of page