In gesprek met die Vader [resensie]
top of page

In gesprek met die Vader [resensie]


Dié Bybelstudiegids is deel van CUM se wenreeks, Ontdek & Beleef Bybelstudie, wat standaardwerke by talle Bybelstudiegroepe en selgroepe geword het, en ook vir lidmate in hulle stiltetyd uitmuntende studies bied. En dié studieboek deur Danie Malan leef op aan die hoë verwagtinge wat die reeks geskep het. Danie is ‘n leraar van ‘n gemeente in Kempton Park en bekend daarvoor dat hy passievol is oor gebed en die gemeente.

Elke week bevat ‘n volgende deel van die Onse Vader-gebed wat grondig bespreek word en gevolg word deur ‘n klompie vrae en voorstelle vir hoe om tyd aan gebed te spandeer. Die studie is so geskryf dat ‘n mens self deur dit werk en wanneer die groep dan byeenkom, hoogtepunte daaruit bespreek aan die hand van die vrae. Dit is substansieel genoeg dat ‘n mens vyf of sewe dae se stiltetyd daaraan kan wy. En wanneer jy op jou eie werk, help die vrae jou om die belangrikste elemente te identifiseer en te integreer.

Die skrywer het goeie studie gedoen voor hy sy boek saamgestel het. Die inligting wat hy oor die Onse Vader-gebed verskaf, handel oor hoe die kerk deur die eeue daarna gekyk het en wat kerkvaders en teoloë daaroor geskryf het. So lees jy dat Martin Luther, die kerkhervormer, die bloedige vervolging van die hervormingsgesindes deur die Katolieke beleef en dan skryf dat gebed die enigste middel is om onsself te verdedig omdat ons te swak is om die duiwel in eie krag te weerstaan. Ons bewapen onsself met gebed; so alleen het God ons bewaar van ons vyande. Die gebede het ‘n ondeurdringbare muur rondom ons gevorm. En was dit nie vir gebed nie, sou ons baie groter tragedies beleef. Wanneer kinders van God bid dat sy wil geskied, antwoord Hy dat Hy sal, in weerwil van die duiwel en die wêreld.

Danie doen goeie eksegese van die teks en ontsluit die betekenis en die implikasies daarvan vir jou. En wanneer jy met die studie besig is, vind jy uit dat jy nie slegs besig is om gawe inligting oor die gebed te versamel wat Jesus se dissipels leer wanneer hulle Hom vra om hulle te leer bid nie. Jy vind dat jou studie jou gebedslewe verryk, wat tot ‘n verdieping in jou verhouding met die Here lei, in die woorde op die voorblad: vir ‘n ryker gebedsverhouding met God.

Dié studiegids is hoogs aan te beveel, soos al die ander in die reeks!


bottom of page