“Mamma, see mooi!”
top of page

“Mamma, see mooi!”


Met my dogter skaars twee jaar oud, ry ons een sonnige Mosselbaai-dag een van die dorp se vele bulte uit. En toe ons om die draai kom, lê die Indiese Oseaan voor ons uitgestrek, met die Outeniekwaberge afgeëts aan die ander kant. Ons drie is doodstil in die motor. Ewe skielik pluk my dogtertjie haar bottel rooibostee uit haar mond en ons hoor net borreltjies gorrel soos wat dit lug insuig.

Sonder waarskuwing kom haar eerste drie-woord-sin: “Mamma, see mooi!” My vrou draai in haar sitplek om en haar oë glinster. “Dit is so, ja, die see is baie mooi vandag!” Ons lag. Opgewonde bespiegel ons oor hoe sy gekies het om hierdie drie woorde in haar eerste ordentlike sin bymekaar te sit. Tot hier toe was dit “Sappies hê!”, “Wakker word!”, “Beertjie weg,” of “Wil nie!”.

Maar my vrou se liefde vir die see se blou water was eintlik die rede vir my dogter se eerste drie-woord-sin. Sy het gereeld by haar ouers gehoor: “Kyk hoe mooi is die see vandag!” Of: “Kyk die see so met die sonsondergang!”

Natuurlik raas ouers nie met hulle kinders wanneer hulle stelselmatig begin praat nie. Ons is opgewonde om te hoor hoe hulle woorde begin vorm en ons dikwels napraat (soms tot ons verleentheid), al is dit maar krom en skeef. Hulle leer hulle taal by ons.

By God leer ons die taal van liefde. Wanneer God praat, borrel daar liefde na ons toe uit. Christene leer hierdie taal by God aan. Soms gaan dit maar sukkel-sukkel, maar geduldig en genadig hou God aan om liefde te praat.

En net soos wat ek my vrou se taal herken het op daardie dag toe my dogtertjie haar eerste drie-woord-sin gesê het, hoop ek dat mense God se taal van liefde herken wanneer ek praat of iets doen.

Mag ons fyner na God se kommunikasie oplet, sodat ons God se liefdestaal vlot kan leer praat. Mag ons vollengte-sinne mense laat glimlag omdat hulle weet waar daardie woorde eintlik vandaan kom.

Johannes 1:14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.


bottom of page