top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Geestelike beserings is nie die hoofstorie van jou lewe nie, Jesus is


Wanneer rugbyspelers ’n bloedbesering opdoen tydens ’n wedstryd dan moet hulle die veld verlaat. Hulle moet eers klaar bloei voordat hulle weer kan terugkeer na die speelveld toe. Lyk my dit gebeur met baie gelowiges ook… en met myself! Ons tel allerlei beserings op aan diens. Ons is kwaad vir hierdie gelowige, of vir daardie kerkleier. Of sommer vir ‘die kerk.’ Dan is ons ‘diep’ seergemaak. Of ‘verwond.’ Dan kan ons nie speel in die Here se span terwyl ons langs die veld sit en bloei nie. Dieselfde gebeur by ons werk, of in ons families.

Kom ons sê dit padlangs vir mekaar: Ons almal was al iewers langs die pad die slagoffers van goor gebeure en van moeilike mense. Soms kry ons sulke seerkry net nie uit ons gestel nie. Dit lei daartoe dat ons selfs ‘n ongeneeslike ‘geestelike besering aan diens’ opgedoen het, wat ons heeltemal uit spel haal daar waar dit saak maak. Hoor hier, sulke wonde is nie veronderstel om die storie van ons lewe te wees nie. Ons vertel nie van vroeg tot laat vir almal hoe seer almal ons gemaak het nie. Om lewenslank aan seerkry vas te klou, is om net so lank ook die gevangene hiervan te wees. Dit verander ons in die hoof-slagoffers van al wat ‘n slegte storie van ons lewe. Iewers moet ons ons seerkry-boeke toemaak. Ons is nie verwonde mense nie, maar mense op die pad van herstel. Ons hoofstorie is dat Jesus ons raakgeloop het. Hy begelei ons op die pad van herstel en nuut word. Sy storie van vryheid en lewe is nou ons s’n ook.


bottom of page