Die groot geheim [resensie]
top of page

Die groot geheim [resensie]


Indien jy al met jeugwerk by ʼn gemeente gehelp het en probeer het om met tienermeisies te kommunikeer, het jy dalk ook al gevind dat dit uitdagings bied. As ʼn teken is dat die verhouding slaag wanneer die meisies begin saam gesels, moet ek bely dat ek nie effektief met hierdie groep kan kommunikeer nie, dalk omdat ek ʼn man is. Met die jongmanne kom dit nog makliker.

Hoe vertel jy dan ʼn storie sodat tienermeisies dit graag wil lees? En dit in ons dag dat dit lyk of tieners eerder graag hulle tyd op sosiale media wil spandeer? Hoe kry jy hulle geïnteresseerd? Die resep, so lyk dit vir my, is om die idioom van tienermeisies te gebruik en die verhaal te laat afspeel in ʼn omgewing waarmee hulle hul kan identifiseer en met karakters wat bekend uit hulle eie lewe voorkom. Melody Carlson slaag hierin. Maar sy doen meer as dit: sy dra ook waardes oor met die afloop van haar verhaal, meer effektief as wat enige Sondagskoolles of morele praatjie dit waarskynlik gaan regkry.

Die skrywer was kleuterskoolonderwyser, wêreldreisiger, ma van twee seuns en binnehuisversierder terwyl sy ook meer as 200 boeke vir kinders, tieners en vroue geskryf het. Klink formidabel, nie waar nie? Haar geheim, verklap sy, is dat sy haar fiksie laat inspireer deur ware lewensgebeure. Dat sy al veel beleef en gesien het, word duidelik wanneer ʼn mens kyk hoe wyd sy al gepubliseer het, en hoe suksesvol sy daarmee was.

In dié interessante verhaal ontmoet jy vir Morgan, Amy, Carlie en Emily. Hulle word vriende omdat hulle in dieselfde woonwapark bly. Hulle besluit om die vaal wêreld waarin hulle leef ʼn beter plek te maak, met verrassende resultate. En met min waardering – hulle harde werk word elke keer ongedaan gemaak. Totdat die woonwapark se opsigter hulle beloon vir hulle harde werk, met ʼn ou skoolbus wat hulle as klubhuis kan gebruik. En dit is waar die kinkel in die verhaal kom, want in die bus kom hulle af op...

Koop vir die meisies in jou lewe – dit gaan hulle lewe verryk!


bottom of page