Om sonder antwoorde te leef
top of page

Om sonder antwoorde te leef


Ateïste en nie-gelowiges kan ons soms ontstel ... omdat hulle dalk juis die vrae vra wat ons self onderdruk, sê Brian McLaren. Dit maak nie saak hoe groot ons geloof is nie, daar is in ons almal se gemoed vrae waaroor ons wonder, antwoorde wat ons nog nie gekry het nie en bewyse wat ons nie kan lewer nie. Die waarheid is dat geloof juis nié oor klinkklare antwoorde, oplossings en wetenskaplike bewyse gaan nie. Geloof gaan oor die feit dat ons hoop op die dinge wat ons nie kan sien nie, omdat ons in ons harte en in ons lewens beleef dat daar ‘n God is wat ons nie hoef te sien nie. Ons wéét net: Hy ís daar. Hy ís by my.

Om die Woord te lees, te getuig en met die stille wete te leef dat die Here deel is van my lewe ten spyte daarvan dat ek nie al die antwoorde het nie en soms selfs twyfel, dís geloof. Want ons hoef nie altyd al die antwoorde te hê nie. God hét! En geloof neem nie noodwendig al ons twyfel weg nie. Net die Gees kan! Net Hý kan vir ons opregte kinderlike geloof géé!

Om Christen te wees beteken om soms sonder antwoorde te leef. (Joodse Liturgie). Ek kies om eerder te glo as om te dink dat ek al die antwoorde het. En jy?

Here, help my glo!


bottom of page