top of page

Hy (jy) sal soms verwerp word


Die Here sê toe vir Samuel: “..., want eintlik is dit nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar hulle wil My nie meer as koning oor hulle hê nie. Hulle doen maar net wat hulle nog altyd gedoen het ...: hulle draai die rug vir my en dien ander gode. 1 Samuel 8:7-8

God is gewoond aan verwerping. Dwarsdeur die geskiedenis lees ons hoe die mensdom Hom eenkant toe stoot. Hulle (ons!) kies gereeld om sonder Hom te leef. Ja, ook vandag verkies die wêreld om liewer so min as moontlik van Hom te hoor sodat hulle nie so skuldig hoef te voel oor hul eie lewe nie.

Wanneer jy iemand is wat met passie vir God en sy Woord leef, kan jy aanvaar dat ook jy dikwels verwerping sal moet hanteer. Ook jy sal soms ervaar dat mense minder aangename dinge van jou sê, jou uit ‘n geselskap stoot, agter jou rug praat en jou nie deel van hul vriendekring wil maak nie. Sulke tye is goor! Dis die tye wanneer mens in die versoeking kan kom om jou geloof bietjie eenkant toe te skuif en ter wille van aanvaarding, dinge te doen wat teen jou grein is.

Onthou, die Woord beloof ons dat dié wat tot die einde toe getrou is, ryklik deur die Vader beloon sal word. Bly daarom elke dag lewensgetrou aan jou God. Daar sal ‘n dag kom wat élke knie op aarde voor Hom sal buig!

Ek wíl getrou aan U bly, Here. Altyd.


bottom of page