top of page
deur Ashe Steenbok

Die oes is baie


Dit is die eerste week op kampus en daar is so ‘n uitreik/sendingspan wat ‘n jeugevangelisasieweek hou. Ek het nie regtig tyd daarvoor nie want ek is besig om rond te hardloop vir verblyf en boeke. Jou eerste maand op kampus is darem rof-as dit nie verblyf ‘issues’ is nie, is dit roosters en vakke wat bots. Die registrasie vat tyd en die seniors vat nie drama nie!! My vrou, destyds my meisie, is op Potch ook vir haar eerste maal en ek verlang haar verskriklik. Die reël ongelukkig op Potch is dat jy nie vir die eerste drie weke enige kontak met jou familie mag hê nie-dus ‘n ‘weird’ reël en sy kon my nie kontak nie. Ek het gewonder of sy nog na die drie weke myne sal wees… maar hier lê sy vandag 20 jaar later langs my. Ek is te onweerstaanbaar, of is dit dat Potch se manne nie naby Tuks se harde baarde kom nie?

Ek glimlag deesdae as ek sien daar is nou predikante wat hulle ‘pastors’ noem op webtuistes of in Engelse gesprekke. Destyds het ons/ek gedink ons as Gereformeerdes is beter as die charismatiese kerk ouens. Ek dink nie meer so nie; ek dink ons kan baie by mekaar leer en so is een van die dinge wat ek geleer het is dat God altyd bevestig wat Hy beloof het. My charismatiese vriende het dit altyd vir my gesê, maar ek het dit nooit werklik beleef of besef nie.

Ek sit op kampus agter die boekwinkel alleen my broodjie en eet en wonder hoe ek hier op geëindig het. Ek was ‘n maand gelede ‘n tegniese-ingenieur met my eie kantoor, maar nou is ek ‘n student en ‘n kelner, MAAR God het geroep en ek moet nie twyfel…

Terwyl ek so sit en eet kom sit daar twee student by my wat ek nie ken nie-totale vreemdelinge. Hulle stel hulle self voor en verduidelik die jeugweek by die kampus en die fokus is om uit te uit te reik na vreemdelinge en mense wat eensaam voel op kampus. Hulle deel toe die Bybel tema met my mee: Lukas 10-die oes is baie. Net daar besef ek dit is God wat sy roeping op vir my bevestig-onthou julle die vreemdeling wat vir my 22h00 die aand gebid het en my dieselfde teks meegedeel het in Plettenbergbaai.

Ek deel toe my storie met hulle-ek weet nie wie van ons was meer in verwondering met God nie; hulle of ek. Ons kon glimlag en weet God het ‘n plan gehad met hulle jeugweek by die universiteit en God het ‘n plan gehad vir my. Dus vanaand effens meer as 20 jaar later-wie sou kon dink ek sou dominee eendag word net soos my pa. Die stout mannetjie wat nooit sy oë kon oophou Sondagoggend in die Sondagskool nie. Die een van die drie broers wat nie die ‘bright’-ste was nie; die jongste wat bederf was… ja né. God kyk wat sit binne in en wat jy kan word saam en deur Hom.


bottom of page