top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Die lewe is ‘n lied, maar watter soort lied?


Life is essentially suffering”, só praat Kanadese sielkundige Jordan Peterson. Die lewe is gelyk aan lyding, so meen hy. Alhoewel so ‘n stelling as effens neerdrukkend of sinies beskou kan word, kan mens tog verstaan waarom sekere mense dinge so beleef. Die lewe kan hard wees. Vra vir mense wat al maande sonder werk sit, of iemand wat wegstap van ‘n oop graf, of iemand wat die verraad beleef het van ‘n lewensmaat se ontrouheid aan die huwelik. Soos ‘n tannie nou die dag vir my sê: Die lewe is ‘n lied, maar die lied is ‘n klaagsang!

Of ons egter ‘n optimistiese siening het oor die lewe of ‘n siniese siening, elkeen van ons moet op ‘n stadium besluit wat ons maak met swaarkry. Swaarkry is ‘n belangrike deel van die lewe. ‘n Belangriker vraag is eerder hoe ons swaarkry kan oorkom. Kan mens dit hoegenaamd regkry om ‘n betekenisvolle lewe te leef te midde van soveel swaarkry en hartseer in die wêreld?

Een van die mees aangrypende literêre werke gee vir ons ‘n interessante perspektief hierop. Anne of Green Gables (deur Lucy Montgomery) vertel vir ons die storie van Anne, ‘n weeskind wat aangeneem word deur ‘n ou oom en tannie. Hierdie twee ou mense tree op as Anne se voogde en ouers en gee vir haar ‘n wonderlike lewe met baie liefde. Soos die jare aangaan raak hierdie twee mense Anne se grootste vertrouelinge, mentors en vriende. Die mees traumatiese gebeurtenis wat hom egter in die boek afspeel is die afsterwe van Matthew, die oom. Hierdie trauma is iets wat vir die karakters in die storie selfs nog hoofstukke later laat steier van pyn en ontnugtering. Vir Anne was dit egter die ergste en die hele laaste deel van die verhaal handel oor hoe sy moes vrede maak met haar “pa” en vertroueling se dood. Alhoewel Anne worstel met die pyn en ontnugtering eindig die boek egter waar sy wel uiteindelik vrede maak. Die heel laaste sin in die boek lui so:

“God’s in his heaven, all is right with the world.”

Uit die boek is dit duidelik dat Anne nie met hierdie stelling bedoel dat God daar ver bo in die hemel sit nie maar bloot dat Hy sy versorgende hand oor haar hou en dat niks sy wakende oog ontsnap nie. Met die laaste deel van die sin het sy ook nie bedoel dat alles in die wêreld nou uitgesorteer en perfek is nie, maar wel dat God mét haar is te midde van alles. God is naby ten spyte van alle belewenisse wat die teendeel weerspieël.

Dis presies waaraan die eerste Christene vasgehou het: God is met ons!

Die vroeë kerk kan in sommige opsigte vir ons baie leer aangesien daar min eras in die geskiedenis was waar Jesus-volgelinge so swaargekry het as in die eerste drie eeue na Jesus. Tog word die Jesus-beweging bestempel as een van die vinnigste groeiende, asook mees vreugdevolle bewegings in die geskiedenis. Hoe kan dit wees?

Wel, die engel het gesê dat Jesus Immanuel genoem sou word, God met ons! En Maria het dit geglo. Jesus het aan die einde sy voete op die Olyfberg geplant en teenoor sy dissipels hierdie belofte bekragtig: “Ek is by julle, al die dae…

En die dissipels en eerste Christene? Hulle het besluit om dit te glo! Ja, God is ook almagtig en Hy regeer en Hy sit op die troon. Maar Hy is veral mét ons! Na Jesus se opstanding is dit die belangrikste stukkie teologie wat Jesus-volgelinge gehelp het in swaar tye.

Paulus skryf gevolglik uit die tronk hieroor:

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: wees bly! … Die Here is naby.

Die nabyheid van Jesus in die lewens van Paulus-hulle was so werklik dat hulle selfs lofliedere gesing het terwyl hulle voete en hande in blokke vasgemaak- en hulle rûe stukkend geslaan was! Lees maar Handelinge. Die nabyheid van Jesus was nie bloot ‘n oulike filosofiese metafoor om mense te help cope nie. Jesus is ’n werklikheid!

Lééf dus jou lewe met geloof, energie en entoesiasme! Wees altyd bly en dankbaar! Kyk jou swaarkry vierkantig in die oë. Jesus het dit gedoen en oorleef. Jy kan ook as jy aan Hom vashou.

Die Here is naby.


bottom of page