Leier Nuusbrief Februarie 2018 Deel 1
top of page

Leier Nuusbrief Februarie 2018 Deel 1


Hoe moet jy jouself in die nuwe jaar lei?

Nuwelinge dink leierskap begin by ander mense. Leierskap gaan oor ander mense, maar dit begin by jou. Vra jong leiers wat gedoen moet word en hulle antwoord begin dikwels met: “Hulle …” Jong leiers kla oor ander in plaas daarvan dat hulle hulle eie verantwoordelikheid aanvaar.

Die gevaar van gesag is die neiging dat jy meer van ander as van jouself verwag.

  • Word ‘n vaardige leier as jy merkwaardige spanne wil lei Voorbeeld: Jy is verantwoordelik vir daardie vervelige, eindelose vergaderings wat jy lei.

  • Word ‘n buitengewone eggenoot as jy ‘n buitengewone huwelik wil beleef.

  • Word ‘n uitsonderlike moeder as jy jou gesinslewe wil geniet.

Die feit dat die eindresultaat nie gewaarborg is nie, is nie ‘n verskoning om nie jou beste te probeer nie.

Selfleierskap is wanneer jy meer van jouself as van ander verwag. Fokus op wat jy moet doen en nie so baie op wat ander moet doen nie.

  • Dien as voorbeeld van die gesindheid en waardes wat jy van ander verwag.

  • Aanvaar 100% verantwoordelikheid vir jou en jou span.

As dinge nie verloop soos jy verwag het nie, kyk na jouself. Die antwoord begin by jou en nie by ander nie. Daar is nederigheid as leiers selfleierskap beoefen.

Hoe kan jy jouself in 2018 lei?

  1. Wil jy ander aanspreeklik hou? Word die persoon met die meeste aanspreeklikheid in jou span.

  2. Wil jy ander vertel wat om te doen? Nooi iemand in jou span uit om te sê wat jy moet doen. Uiteraard moet dit ‘n senior lid van jou span wees.

  3. Wil jy ander evalueer? Onderwerp jou aan die strengste evaluering. Dit beteken nie dat jy jouself moet evalueer nie.

  4. Is dit nodig om streng met ander te wees? Vra ander om streng met jou te wees.

Hou op om jou te bekommer oor wat jy nie is nie, wat jy nie het nie en die dinge wat jy nie kan doen nie. Fokus op wie jy is, wat jy het en wat jy kan doen.

Aktiewe Luister: dié sleutel tot doeltreffende kommunikasie

“You cannot truly listen to anyone and do anything else at the same time.” ― M. Scott Peck

Om te weet daar word nie na jou geluister nie, is een van die frustrerendste dinge denkbaar. Hoekom gebeur dit? Omdat ons dink dat luister nie ‘n vaardigheid is wat geoefen moet word nie. Daar is ‘n verskil tussen hoor en luister. Ons aanvaar dat as ons iemand kan hoor en die woorde verstaan dat ons luister. Dit is nie genoeg nie. Ons moet verstaan wat gesê word en hoekom dit gesê word; ons moet nadink oor die bedoeling van wat gesê is; ons moet die nie-verbale kommunikasie oorweeg.

Om te luister is basies vir die vorming van sterk verhoudings. Tog het meeste van ons nog nooit gedink oor hoe ons luister nie. Ons besef dat die vermoë om te lees, oefening nodig het; dieselfde geld vir luister.

Aktiewe luister is ‘n tegniek om ons vermoë om te luister te ontwikkel. Luister is moeilik, want jy moet jou ego lank genoeg onderdruk voordat jy reageer.

Die kern komponente van aktiewe luister is:

Begrip

Om te kommunikeer moet ons eers verstaan wat die ander persoon sê. Dit is nie so eenvoudig soos dit klink nie. In meeste gevalle gebeur dit onmiddellik en onbewustelik. Daar is egter ‘n paar potensiële hindernisse wat dit kan verhoed. Voorbeelde is:

  • Taal

  • Koeterwaals (jargon)

  • Verskille in kultuur, ouderdom, sosiale status, ens.

Hier moet ons vra dat die spreker wat hy gesê het, moet verduidelik in eenvoudige woorde. Dit verbeter jou begrip selfs van ingewikkelde onderwerpe.

Behoud

Om toepaslik te reageer, moet ons verstaan en behou wat die ander persoon gesê het. Nie almal behou dieselfde besonderhede nie. Party mense behou baie spesifieke besonderhede terwyl ander die algemene idee behou. Baie van ons behou net die besonderhede wat relevant is vir ons reaksie. As ons aktief luister, fokus ons op die ander persoon se woorde en ons dink nie oor ons reaksie nie. Om ons ego te onderdruk is nie maklik nie. Ons dink ons weet reeds wat die ander persoon gaan sê, so ons hoef nie te luister nie. Daar is ‘n aantal hindernisse wat behoud van wat die ander persoon sê, verhinder. Dit sluit in:

  • Selektiewe luister en kognitiewe vooroordele.

  • Afleidings – intern of ekstern (soos moegheid en ‘’n lawaaierige omgewing)

  • Probleme met geheue soos demensie.

Reageer

Gesprekke is aktief. ‘n Gesprek tussen mense kan nie gebeur sonder ‘’n reaksie nie. Aktiewe luister vereis versigtige reaksie wat net moontlik is as die gesprek begryp en behou word. ‘Aktiewe luister moet wys dat jy verstaan het wat die ander persoon gesê het, dat jy aandag aan hulle woorde en nie-verbale kommunikasie gegee het. ‘n Aktiewe luisteraar probeer vêrder as die woorde gaan en ‘n beeld vorm van die ander persoon se emosies en bedoelings. Ons moet egter versigtig wees om die betekenis nie met ons eie gedagtes in te kleur nie

Aktiewe luister en kognitiewe vooroordele

Aktiewe luister vereis dat ons verstaan hoe kognitiewe vooroordele en kortpaaie ‘n impak op ons kommunikasie het. Dit is veral algemeen as mense argumenteer of verskil. Dikwels ignoreer ons al die aansprake in die spreker se woorde en fokus op die een wat ons maklik kan weerlê. Dikwels ignoreer ons die spreker se gevoelens en beklemtoon die algemene gedrag in die samelewing. Hierdie is voorbeelde van ‘n paar kognitiewe vooroordele. Dikwels stem ons nie saam met die spreker nie, maar dit is belangrik dat hy besef dat jy na hom geluister het. Dit kan met nie-verbale leidrade versterk word – knik jou kop en kyk die spreker in die oë. Hy weet nou jy luister. Dit skep ‘n veilige omgewing vir die spreker om sy ware gevoelens uit te spreek. Sodra die spreker seker is dat jy luister, kan jy reageer

Aktiewe luister as ‘n manier om narsisme te oorkom

Sommige mense stel net daarin belang om oor hulleself te praat. In plaas daarvan dat hulle na ander luister skuif hulle elke keer die bespreking na hulleself.

Tom Shachtman skryf:

[Conversational Narcissism] is pervasive and rooted in our culture of individualism, a pattern that leads to self-absorption … by the use of ‘I’ statements, by boasting, by the tactic of asking questions only in order to demonstrate the questioner’s superior knowledge or to top the other person’s story with one’s own, and by continual shifting… The most frequently used written word in the language is ‘the’, but the most frequently spoken word... is ‘I’.

Hierdie narsisme kan ook deur passiewe gedrag gebeur. Geen vrae word gevra nie. Dit laat die spreker twyfel of jy belangstel in wat hy sê. Dikwels is net ‘n vraag of erkenning voldoende. Die meeste mense luister met die idee om iets te doen – meestal om hulleself te verdedig. Feitlik almal luister met die bedoeling om iets te sê sodra die spreker klaar gepraat het. As ons mooi luister is gesprekke dikwels niks meer as twee monoloë nie.

Hoe kan ons ons aktiewe luistervermoë verbeter?

Daar is nie een metode om aktief te luister nie, maar ‘n paar klein veranderinge kan help. Aktiewe luister soos enige vaardigheid word verbeter deur oefening. Ons moet die konsep op al ons gesprekke toepas en geleidelik ontwikkel ons die vermoë om beter te kommunikeer. Dit sluit in:

  • Leer om die algemene kognitiewe vooroordele raak te sien – in jouself en in ander.

  • Probeer om nie onmiddellik te reageer nie. Laat die ander person eers klaar praat en gee dan ‘n oorwoë reaksie.

  • Beperk narsisme. As jy te veel “ek” en “my” gebruik is dit waarskuwingstekens. Maak meer van “ons” gebruik.

  • In sommige gevalle is dit goed om notas te neem

  • Besef dat tydens ‘n argument mense selde geneig is om hulle siening te verander. Deur aktief te luister mag jy die argument in ‘n kalm bespreking verander.

  • Vermeerder jou motivering om aktief te luister. Die motivering mag wees om ‘n verhouding te verbeter of om ‘’n gesprek so duidelik as moontlik te maak.

Leieskapslesse uit Gladiator

In die openingstoneel is die Romeine besig om voor te berei vir ‘n geveg teen die Germaanse stamme. Maximus, die generaal praat met sy manskappe wat hy binnekort in die geveg gaan lei. In sy openingswoorde is daar verskeie lesse,

  • What we do in life echoes in eternity. Hiermee herinner hy sy manne wat die impak van hulle sending is. Hy gaan dus na die “hoekom” van die geveg.

  • Hold the line. Stay with me. If you find yourself alone, riding in green fields with the sun on your face, do not ne troubled, for you are in Elysium, and you’re already dead. Die woorde wat opval, is: Stay with me. In die middel van die stryd hoor jy hom weer skreeu: Stay with me. Hy sê dit nie terwyl hy die geveg van ‘n nabygeleë heuwel af dophou nie. Hy sê nie die woorde deur ‘n kaptein wat hy aangestel het om die aanval te lei nie. Hy sê dit van die voorste linie; hy sê dit terwyl hy die aanval lei. Hierdie herinner ons dat leiers lei deur hulle voorbeeld. As jy jou bediening lei, is dit jou verantwoordelikheid om dit deur jou voorbeeld te doen. As jy wil hê jou span moet passievol oor die visie wees, moet jy passievol oor die visie wees. As jy wil hê jou span moet die tweede kilometer loop, moet jy die tweede kilometer loop. As jy wil hê dat jou span ‘n deel van ‘n kleingroep moet wees, moet jy ‘n kleingroep lei.

Doeltreffende leiers weet dat hulle spanlede na hulle kyk vir leiding en bemoediging. Hulle lei eerstens met hulle eie optrede. Hulle wys die pad aan deur voor te loop. Praat sal jou net so ver as leier neem. As as jy egter doen wat jy sê, is jy ‘n doeltreffende leier – jou span sal jou volg. As jy deur jou voorbeeld lei, bou dit vertroue. Vertroue is noodsaaklik as jy doeltreffend wil lei

Met leierskap kom die verantwoordelikheid om ‘n goeie voorbeeld te stel. Wees toegewy aan stay with me leierskap en jou span sal jou volg.

Verbeter jou lewe deur jou vrae te verbeter

I believe a good question should be rooted in curiosity.” — Warren Berger

Deur die regte vrae te vra, kan ons innovering en kreatiwiteit stimuleer, dieper kennis verkry van belangrike vrae en ons help om ons persoonlike en professionele doelwitte te bereik. Tog doen ons dit nie.

Warren Berger (A More Beautiful Question) sê dat die suksesvolle mense in die wêreld vrae vra wat die spel verander om kreatiwiteit te bevorder, probleme op te los en om nuwe moontlikhede te skep.

Hoekom is die vra van die regte vrae krities belangrik?


bottom of page