top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Maraton hardloop is nie vir sissies nie


Ons seun, ‘n pa van twee tieners, het onlangs sy eerste maraton gehardloop, die Soweto maraton. Hy het ingeskryf, sy nommer gekry, seker gemaak dat hy die regte uitrusting het en vooraf gesorg dat hy sy fiksheidsvlak verbeter.

Hy was via selfoon en satelliet/-e verbind met sy ondersteuners: pa en ma in Engeland, skoonouers in Pretoria, vrou en seun wat hom by die wenpaal inwag, dogter op ‘n skoolkamp wat haar pappa tree vir tree op die selfoon volg, familie en vriende oral oor wat met WhatsApp boodskappies laat weet: “Go, Harry, go!” “Jy kán!” En sy kosbare huishulp wat langs die pad vir hom ‘n verkwikkende watertjie aanbied.

Die ondersteuners het natuurlik so af en toe ‘n WhatsApp foto’tjie van die beswete, vasberade atleet ontvang. Ons kon selfs sien hoedat sy oranje kolletjie vir ‘n ruk stilstaan op die roete – en ekstra bid vir wat ook al die krisis is, bid dat hy die wenpaal in gedagte sal hou.

In my Eenjaarbybel lees ek toe ook van die geloofswedren waarvoor ek inskryf wanneer ek die dag vir Jesus as my Verlosser aanneem. Toegerus vir die wedren met die nodige uitrusting én die allerbelangrikste nommer (kode: kind van God, geborg deur Jesus Christus) pak ek die resies aan. Die Hebreërs-skrywer beveel so treffend aan dat ons elke las van ons moet afgooi en ook die sonde wat ons so maklik verstrik. (Hebreërs 12:1-3) Langs hierdie baan het ek ook ‘n skare wat my vordering dophou en my aanmoedig op die moeilike pad. Dit is natuurlik deel van die rede hoekom ek moet inskakel by ‘n groep gelowiges, by ‘n kerk waar ek gevoed en bemoedig kan word. EN waar ek ook my mede-atlete kan bemoedig en aanmoedig wanneer hulle knieë lam raak of ‘n hamstring in spasma gaan. Wat ‘n vreugde gaan dit nie wees om uiteindelik by die wenpaal uit te kom waar Jesus vir my wag om my medalje aan my te oorhandig nie!


bottom of page