Genade maak al die verskil in die wêreld
top of page

Genade maak al die verskil in die wêreld


‘n Lewensingesteldheid van genade kan soms al die verskil in die wêreld maak. Mens leer nogal baie van die krag van ingesteldhede wanneer mens kyk na die 1981-treffer-fliek Chariots of Fire. Die fliek vertel die verhale van twee atlete wat albei goue medaljes gewen het tydens die 1924 Olimpiese Spele in Parys. Die eerste persoon wat in die fliek uitgebeeld word is Harold Abrahams. Abrahams het die eerste plek behaal in die honderd meter resies vir mans. Hy word geskets as ‘n toegewyde maar komplekse mens wat geweldig worstel met sy eie identiteit en self-waarde. Hy was byna obsessief daaroor dat hy moes wen en in ‘n gesprek met sy afrigter net voor die skoot klap openbaar hy sy houding oor die wedloop wat voorlê. Hy noem die wedloop:

“… ten lonely seconds to justify my existence.”

So ‘n houding mag jou dalk dryf tot hoë hoogtes. Wanneer jy dink dat jou bestaan elke dag regverdig moet word deur die kwaliteit van lewe wat jy leef, dan kan so ‘n stukrag merkwaardige dinge laat plaasvind. Dis egter slegs goed wanneer jy aanhou wen. Wat doen jy wanneer jy verloor? Of wat maak jy wanneer jou lewensmaat van jou skei? Of hoe beheer jy hoe jy voel wanneer jy jou werk verloor? Soos baie mense vandag hardloop Abrahams dus om aan homself waarde en betekenis toe te ken.

Die tweede karakter wat in die fliek na vore kom is Eric Liddell. Hy was byna as legende beskou wat die eerste prys behaal het in die vierhonderd meter vir mans. Liddell kom ook voor as ‘n uiters toegewyde mens maar met ‘n heel ander ingesteldheid teenoor sy moontlike prestasie. Alhoewel hy ook kompeteer om te wen, is daar nie die obsessie soos by Abrahams nie. In ‘n gesprek met sy sussie, Beckie, verduidelik hy waarom hy hardloop:

“Beckie, I believe God made me for a purpose. He also made me fast. And when I run I feel his pleasure!”

Deur die loop van die fliek is dit duidelik dat hy nie hardloop om God se plesier te verdien nie maar omdat God se plesier oor sy ganse lewe geskryf staan. God se oortreffende liefde vir hom is dus sy identiteit en genade is daarom sy ingesteldheid. Prestasie is vir hom ook belangrik maar sy self-waarde hang nie daarvan af nie. Hy hardloop want God het hom lief ongeag wat gebeur. Hy leef en presteer dus vanuit die genade en rus van God! Dan is daar nie die druk om te móét wen nie maar om slegs te doen wat jy kan. En wanneer jou beste nie goed genoeg is nie dan dra die genade van Jesus jou!

So baie mense beweer dat hulle Jesus volg maar hulle self-waarde is steeds gebou op hoe goed hulle doen, hoe suksesvol hulle kinders is, hoe belangrik hulle in ander mense se oë en in hoe ‘n mate hulle presteer. Sulke mense raak gou moeg en afgemat en word dikwels teleurgestel. Hulle voel dikwels moedeloos, kan selde stil sit om te ontspan en stel soms onmoontlike standaarde aan die mense rondom hulle. En dit terwyl Jesus alreeds in hulle plek, namens hulle, alles gedoen het om hulle ‘n kraakvars, splinternuwe identiteit te gee naamlik dat hulle onvoorwaardelik geliefd is.

Mag ons ook soos Liddell sê: “When I run I feel his pleasure!’


bottom of page