Weet jy waar begin die Nuwe Testament?
top of page

Weet jy waar begin die Nuwe Testament?


Op watter moment breek die Nuwe Testament aan? Nee, ek bedoel dit nie in die algemeen nie, want dan sou jy kon sê: “Dit begin by Jesus.” Of: “Met die uitstorting van die Heilige Gees.” Die Nuwe Testament is baie duidelik oor die presiese oomblik dat die bordjies verwissel het vanaf oud na nuut, vanaf Eerste Testament na Tweede Testament, vanaf ou verbond na nuwe verbond. Die antwoord? Wel, jy sal jou Bybel hiervoor moet nadertrek, want dit word 'n paar keer glashelder beskryf.

En die antwoord is… by die instelling van die nagmaal daardie Donderdagaand net voor Jesus se kruisiging. ’n Paar sleuteltekste in die Nuwe Testament sê dit vir ons. Hoor byvoorbeeld hoe stel Jesus Self dit volgens Lukas 22:19-20: Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.” Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan.

Of 1 Korintiërs 11:25-26: Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.” Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here terugkom.

Presies op daardie einste oomblik dat Jesus die Paasmaaltyd opgradeer na die nagmaal, breek God se nuwe verbond aan. Net soos wat die Pasga vir Israel aangekondig het dat hulle tyd van slawerny agter die rug is en dat hulle dit van toe af deur ’n ete sal vier, kondig die nagmaal aan dat Jesus se liggaam en bloed die nuwe verbond inlei. Hebreërs 9:15-18 verduidelik glashelder hoedat Jesus die bemiddelaar van die nuwe verbond is wat Hy deur sy eie bloed bewerkstellig het.

Die Nuwe Testament begin met die nagmaal daardie Donderdagaand en dit is prakties in werking gestel aan die kruis. Daar begin God se nuwe verbond in volkleur.

Hoe jammer dat ons die nagmaal so verwaarloos. Die nagmaal, die ete van die Here is dié teken, die simbool, van die Christendom. Dit vertel dat ons deel van God se nuwe ooreenkoms is, dat Jesus se bloed vir ons gevloei het. Miskien het ons die nagmaal te koud en klinies gemaak. Ons noem dit ’n familiemaaltyd, maar meeste mense kan nie eens onthou watter “familie” langs, voor, of agter hulle in die kerk gesit het by die laaste nagmaal nie. Boonop sit meeste mense by enige kerklike nagmaal met hulle rug op mekaar gekeer. (My pa sou gesê het dit gaan sleg in so ’n familie!) Ons praat van ’n nagmaal, maar die brood is so klein (en soms nog saamgepers ook) dat dit nie die titel: “maaltyd” werd is nie.

Eet gereeld saam met die Here. Vier Sy lewe en sterwe. Nooi sy kinders ook uit en maak elke nagmaal ’n familie-ete in die teenwoordigheid van die opgestane Heer.


bottom of page