Episode 9 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 9 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oordenking Na die oproep in 12:1 - 2 om onsself volkome aan God te wy en ons denke onder God se heerskappy te plaas, begin Paulus uitwy oor hoe hierdie nuwe manier van dink en leef lyk. Hy begin hier ‘n uiters praktiese uiteensetting van die evangelie, wat elke deel van ‘n gelowige se lewe konkreet raak. Lees gerus verse 3 - 8. Die heel eerste implikasie van ‘n vars, God-beheersde denkraamwerk het alles te make met hoe ons oor die nuutgevormde Jesus-gemeenskap, die kerk, behoort te dink. Paulus gee heel eerste in vers 3 aan die individu binne-in die gemeenskap advies komende van gelowiges: Moenie jou eie belangrikheid oorskat nie. Dit kan dodelik wees vir alle verhoudinge, veral vir die kerk van Jesus. Geen individu is belangriker as die groep mense met wie hy sy geloof deel nie. Paulus lê hier baie sterk klem op ‘n Bybelse tradisie, wat van die Ou Testament af kom. In Spreuke 6:16 - 17 sê die skrywer: Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ‘n afsku het: oë wat straal van hoogmoed... Die skrywer noem dan ses addisionele dinge ook, wat die Here afkeur, waarvan hoogmoed die heel eerste is. In die Nuwe Testament word hierdie gedagte in die evangelies en briewe voortgesit. Jakobus druk dit heel moontlik die helderste uit in 4:6: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Hoogmoed en arrogansie pas net glad nie by mense, wat glo in die Goeie Nuus van Jesus, waar Jesus die volle prys in ons plek betaal het en waar God alles vir ons skenk uit genade, nie. Die boodskap van die kruis gee vir ons ‘n belangrike tweeledige boodskap: Die eerste is dat ons vir God waardevol is en dat Hy ons oneindig lief het. Die tweede implikasie is egter dat, aangesien ons alles uit genade ontvang, ons géén rede het om ooit hoogmoedig te wees nie. Ons geloof is nie op ons eie prestasie gebou nie. Trouens, wat pas by Jesus-gelowiges, is veel eerder die beskeidenheid en nederigheid waarvan Paulus in vers 3 praat. Indien elke individu dus die regte gesindheid openbaar, kan hy / sy ‘n positiewe bydrae in die gemeente van God lewer. In verse 3 - 8 brei Paulus verder uit oor hoe ons moet dink. Elke individu moet die gemeente dien: Ons moet in éénheid leef. Ons is elkeen anders, maar ons individuele uniekheid mag nie in individualisme ontaard nie. Ons moet elkeen eerder die gemeente se eensgesindheid dien. Een so ‘n manier is die wyse waarop ons ons gawes aanwend. Ons het mekaar juis nodig, omdat ons verskil van mekaar en verskillende vermoëns van God ontvang het, waarmee ons mekaar dien en so die liggaam van Jesus opbou. Hierdie unieke vermoëns van elke gelowige, noem ons gawes. Dis geskenke, wat God deur die Heilige Gees aan elke gelowige gee, waarmee ons ons medegelowiges behulpsaam kan wees. Daar is vier plekke in die Nuwe Testament, waar daar gepraat word van gawes. Dis in Romeine 12:6 - 8, 1 Korintiërs 12 - 14, Efesiërs 4:11 - 12 en 1 Petrus 4:10 - 11. Die lyste gawes verskil ietwat van mekaar. Hier in Romeine 12 noem Paulus gawes, soos byvoorbeeld om te kan profeteer of om die Here se Woord suiwer te kan verkondig, die vermoë om praktiese dienswerk te kan verrig, die vermoë om ander te leer en te onderrig, om mense te bemoedig, om vrygewig te wees, as leier op te tree en hulp te verleen. Elke gelowige besit deur die Gees ten minste een gawe, maar kan ook meer besit. Mense moet probeer vasstel wat hulle eie gawes is, sodat hulle die gemeente kan opbou. Oefening Lees Romeine 12:9 - 21 deeglik deur. In hierdie gedeelte maak Paulus eenvoudig ‘n lys van praktiese handelinge, wat uiting gee aan die hierdie radikale liefde van Christus in ons lewens. Maak ‘n eenvoudige lys van al die gesindhede, praktyke en konkrete liefdesdade, wat in die teks na vore kom. Vra jouself af watter nuwe gewoontes jy kan aanleer om hierdie kruisgesindheid van Jesus ook deel van jou alledaagse reis saam met die Here te maak. Sluit af met gebed en praat met die Here uit jou hart oor wat jy gesien en gelees het. GEBED: Here, ek gee my lewe, denke en ganse menswees oor aan U! Vernuwe my gees elke dag en leer my om in diensbare liefdesgemeenskap met my medegelowiges te leef. Help my om kwaad nie met kwaad te vergeld nie, maar altyd te reageer met die goeie, soos Jesus my leer.


bottom of page