Episode 3 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 3 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Lees Romeine 3:21 – 4:25. Oordenking

  • Die woorde Maar nou... in 3:21 reflekteer so ‘n groot kopskuif in die menslike denke dat dit as’t ware gesien kan word as ‘n teologiese draaipunt in die geskiedenis. Die Maar nou is ‘n wegdraai van sonde en oordeel na God se genade toe. God se woede is reaktief - dis ongelukkig noodsaaklik as gevolg van sonde. Oordeel weerspieël egter nie God se hart nie. God wil nie kwaad wees nie. Hy wil vrygewig wees. Hy wil genade uitdeel en mense liefhê. Hy wil mense met Homself versoen en gemeenskap met ons hê. Die Maar nou is ‘n skuif na die plan wat God in sy liefde gemaak het om ons vry te spreek ten spyte van ons sonde. Sy plan is die kruis van Jesus.

  • Verse 21 – 24 gee vir ons ‘n vinnige opsomming van wat hierdie kruisplan behels: God se vryspraak waarna die Ou Testament gesmag het, is uiteindelik geaktiveer in Jesus! In teenstelling met wat elke ander godsdiens in die wêreld leer, word hierdie vryspraak nie verkry deur goed te probeer wees of die Wet te onderhou nie. God kan nie beïndruk word deur ons flou pogings om te probeer goed wees nie. Sy standaard is immers soveel hoër as ons s’n. Hy is heilig en ons is sondig. Nee, ons ontvang die vergifnis en die ewige lewe nou as ‘n gawe, ‘n geskenk deur bloot in Jesus te glo!

  • Soos reeds gesê in die video: Dit alles is gegrond op Jesus se plaasvervangende versoening!

Oefening 'n Mens verstaan soms iets eers goed wanneer jy dit self moet neerskryf of in jou eie woorde vertaal. Skryf 3:23 – 26 oor in jou eie woorde. Skryf ook die idee van plaasvervangende versoening oor in jou eie woorde, asof jy vir iemand ‘n brief skryf oor hoe hy/sy redding in Jesus kan vind. Hoe oortuig mens egter ‘n volk, soos die Israeliete, van hierdie goeie nuus? Hulle was immers vir honderde jare gewoond daaraan om vergifnis te ontvang deur die offers van diere! Hoe oortuig ‘n mens hulle dat vergifnis deur geloof nie ‘n nuwe godsdienstige bevlieging en smaak van die oomblik is nie? Hoe oortuig ‘n mens hulle dat al daardie bloederige offers deur al die jare nie meer nodig is nie? Hoe oortuig ‘n mens hulle dat Jesus se offer al die ander offers in die Ou Testament vervang en dat ons daarom slegs hoef te glo? Een van die maniere is om vir hulle in die Ou Testament aan te toon dat geloof alreeds op ‘n manier teenwoordig was, al was die idee daarvan nog nie ten volle vervul nie. Jy wys vir hulle hoe dat die aardsvaders, soos Abraham, alreeds in ‘n mate staatgemaak het op geloof. Lees die hele Romeine 4:1 – 25 deur en sien hoe dat Paulus dit doen. Maak ‘n kort opsomming deur die volgorde en strekking van Paulus se argument puntsgewys weer te gee. GEBED: Here, dankie, dankie, dankie! Dankie dat U Abraham en Israel se geloof vervolmaak het in Jesus! Dankie dat U gekom het vir ons. En dankie vir Jesus se plaasvervangende versoening, wat vir ons vergifnis en nuwe lewe bring!


bottom of page